‘n Gebed om herstel in Advent

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 4 DESEMBER 2023
RCL JAAR B –EERSTE WEEK VAN ADVENT

(Gebed na aanleiding van Psalm 80:1-7, 17-19 saam met Jesaja 64:1-9)

Herder van Israel, Here God –
Psalm 80:1 se getuienis en Jesaja 64:1 se bede,
resoneer met my / ons Adventsverlange na U.
Ons eet brood van trane oor oorlogsugtige mense.

Agressors span wapentuig en tegnologie in –
om vernietiging te saai.
Menselewens en eiendom lê verwoes.
Haat verblind die oë vir die medemens.

Luister tog, O God.
Laat skyn tog u lig in ons brose wêreld.
Laat u mag ontwaak en kom tot ons redding.
Heerser oor alle magte, herstel ons.

Ook die profeet Jesaja, ken dié diep verlange.
As U maar die hemel wou oopskeur en afdaal –
en u teenwoordigheid mens en natuur oorweldig.
Ja, agressors sal hul boosheid besef,
wanneer U u Naam bekend maak.

In die Seisoen van Advent –
roer die verlange na en afwagting op u redding.
Ons werp ons op U alleen.
U troon immers oor gerubs en alle magte.

O God, herstel ons;
laat skyn die lig van u aangesig,
sodat ons verlos kan word.

Te midde van stryd en spot in die wêreld,
verlang ons dat U na ons afdaal.
Ons begeer dat U sal insien:
“Ons almal is u volk” (Jes 64:9).

Mag ons verlange na en afwagting op U –
ons in hierdie Advent opnuut beweeg,
om nie van U te wyk nie.

Laat die Adventsboodskap van iets nuut –
ons lewend maak en ons net u Naam aanroep.
O God, laat skyn die lig van u aangesig.

Amen