Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Ses en Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 1 Desember 2023
MATTEUS 25:31-46
Dié week sien die oorgang tussen twee liturgiese jare op die Christelike kalender. Die afgelope Sondag het Christene die einde van die vorige Kerkjaar gevier, met Sondag van Christus die Koning. Eerskomende Sondag vier Christene die aanvang van die nuwe Kerkjaar, met die eerste Sondag van Advent. Ons lees Matteus 25:31-46 ter viering van Jesus se koningskap. Die kerk van Christus glo dat wat ookal in die verlede gebeur het, in die teenwoordige tyd gebeur of in die toekoms mag gebeur, Jesus inderdaad die Here is. God regeer. Hy sal sy ewige doel met ons goeie en genadige Redder bereik.
Matteus 25:31-46 vorm deel van Jesus se “Profetiese rede” oor die naderende eindtyd. In Matteus 16:21-28:2 rig Jesus Hom tot sy dissipels, die kern van die nuwe gemeenskap van gelowiges. Die gelykenis van Jesus as Koning wat soos ’n herder die skape van die bokke skei, is die vierde agtereenvolgende gelykenis oor voorbereiding vir die koms van God se koninkryk aan die einde van die tyd. Hier word ’n prentjie geskets van hoe die Seun van die Mens op die oordeelsdag sal handel.
In die 2020-vertaling lees vers 31-32: “Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit. Al die nasies sal voor Hom byeengebring word, en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n herder die skape van die bokke skei.” Jesus is besig om die dissipels se vraag in Matteus 24:3 te beantwoord, nou met ’n klemverkuiwing. Die dissipels wou weet wanneer die dinge wat Jesus voorspel, sal plaasvind, en wat die teken van sy koms en voleinding van die tyd sal wees. In ons Skrifdeel fokus Jesus op wat by die voleinding van die tyd sal gebeur.
Jesus betrek sy dissipels by ’n uitbeelding oor skape en bokke wat vir hulle bekend sou wees uit hul daaglikse lewe. Jesus stel twee groepe mense voor (skape en bokke) wat op die oordeelsdag voor die troon van die Seun van die Mens (Koning) sal verskyn, om oor hul lewe beoordeel te word. Met dié gelykenis verplaas Jesus sy dissipels na die toekoms, sodat hulle kan terugkyk op die lewe wat hulle op aarde deurbring. Alhoewel Jesus se gelykenis op die oordeel van die Koning fokus, herinner Hy die dissipels aan vers 13: “Wees dan waaksaam omdat julle die dag en die uur nie ken nie.”
Vir die dissipels wil Jesus se gelykenis aandui hoe hulle waaksaam moet wees in afwagting op die onbekende dag en uur waarop die Seun van die Mens kom. Jesus se gelykenis dien as onderrig vir sy dissipels se geloofsgetroue navolging in afwagting op die koms van die Here, ons Koning. Met die beoordeling van twee groepe mense (skape en bokke) in die gelykenis, stel Jesus riglyne en kriteria vir ’n lewenswyse wat God in dié lewe behaag. Die gelykenis beklemtoon dat dié lewe saak maak.
Terwyl Jesus sy dissipels op die eindtyd rig, leer Hy hulle die waardes van die koninkryk van God wat hul gedrag en optrede hier en nou moet rig. Die geseëndes van die Vader, die regverdiges, gee aandag aan ander se honger, dors, naaktheid, eensaamheid, siekte en nood. Jesus maak sy dissipels sensitief daarvoor dat die verwagte einde ’n bepalende invloed het op hoe hulle nou lewe. Vers 40 verwoord Jesus se perspektief vir dissipelskap: “Ek sê vir julle: Wat julle ookal vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle aan My gedoen.” Dit is die spieël wat Jesus vir sy dissipels ophang.