Die presbiteriaanse kerk in Oudtshoorn
Op 19 November vanjaar was daar ‘n baie besondere kerkdiens in Oudtshoorn toe Arbeidsbediening deur die Presbiteriaanse kerk gevra is om die grootste deel van hul liturgie waar te neem. André van Staden, voorvatter by Arbeidsbediening in Oudtshoorn vertel:
“Arbeidsbediening Oudtshoorn het kontak met ongeveer 80 besoekpunte in en om Oudtshoorn en werk met 12 denominasies in die dorp. Dit sluit onder andere in die Baptiste Kerk, die sewe NG Kerk-gemeentes, die VGK, die Evangelies-Gereformeerde Kerk, asook die Metodiste – en Presbiterianse kerke.
“Ons is onlangs deur ds Hennie Kruger, predikant van die Presbiteriaanse Kerk, genader om die grootste gedeelte van hul erediens op 19 November te hanteer. Ek ken hom al byna vyftien jaar en hy het al dikwels aan ons hierdie gulde geleentheid gebied; iets wat ons opreg waardeer. Ook ander kerke het oor die jare al aan ons die geleentheid gebied om deel van hul liturgie te wees tydens ‘n erediens.

“Hierdie keer was dit iets besonders. Afgesien dat dit in ‘n Engelse kerk aangebied is, het ek twee van my geestelike kollegas ook saamgenooi. Nadat ds Hennie die gemeente verwelkom het, die afkondigings gedoen en die eerste liedere gesing is, het hy ons drie aan die woord gestel om meer van ons Arbeidsbedieningswerk te vertel.
“Ek het begin deur meer van die onstaan en geskiedenis van Arbeidsbediening in ons dorp te vertel en hoe ons bediening as verleninging van die kerk verstaan moet word.

“Daarna het my kollega, Beulah Diedericks, ‘n jong polisievrou wat op straatbediening fokus en baie goed by ons straatbediening inpas, getuig hoe die Here haar geroep het. Sy bedien in haar vrye tyd mense by die Checkers- en taxi-parkeerterreine en sluit so dikwels moontlik aan by ons bedieninge in die res van die dorp.

“Daarna het Deon Schutte, ‘n afgetrede polisie-offisier, getuig hoe die Here hom Oudtshoorn toe geroep het waar hy elke Woensdag die mense by die polisiekantore geestelik bedien.”
“Na die diens het ons pamflette oor die werk van Arbeidsbediening uitgedeel.”
Mag hierdie wonderlike bediening en gesonde verhoudings tussen Arbeidsbediening, die verskillende denominasie en besighede van Oudthoorn in alle opsigte geseën word.