‘n Lofgebed tot ons Herder-Koning

RCL JAAR A – 26ste WEEK VAN KONINKRYKSTYD

’N LOFGEBED TOT ONS HERDER-KONING
(Gebed na aanleiding van Psalm 100, saam met Esegiël 34:11-16)

 

Loof die Here, ganse aarde.
Dien die Here met blydskap.
Elkeen wat weet God is die Maker –
jubel oor ons Herder-Koning.

Here, die week ná Sondag van Christus die Koning.
Die einde van die Liturgiese Jaar.
U volk, die kleinvee wat U laat wei.
Ons erken lofprysend: U regeer as Herder-Koning.

Ons ervaar ook die blydskap en vreugde, Here –
wat Psalm 100 in u teenwoordigheid uitjubel.
Ons sluit aan by ons Anglikaanse geloofsgenote,
wat Psalm 100 elke oggend tot U bid.

Here, ons juig oor u genade, liefde en krag.
Ons betree u voorhowe met ’n loflied.
Ons behoort aan U!
Ons getuig dat U ons trou versorg.

Esegiël 34:11-16 profeteer hoe U versorg, Here.
U sal na u kleinvee omsien en hulle versorg.
U sal u kleinvee opspoor en red uit diepe duisternis.
U sal self u kleinvee in geil weiding laat lê en rus.

Here, heerlik is u beloftes aan u kleinvee!
Dié met gebreekte bene, verbind U.
Die swakkes laat U weer sterk word.
U laat u skape op die regte manier wei.

Here, aan die einde van nog ‘n Liturgiese Jaar,
kán u kleinvee getuig u beloftes is eg.
U het woord gehou en ons óók getrou versorg.

Daarom is ons in u teenwoordigheid, Here.
Ons dien U met blydskap.
Ons loof U met ’n loflied.
Ons prys u Naam, want U is goed.

Ons Here se troue liefde duur vir ewig,
u trou is van geslag tot geslag.
Ons is begenadigdes, Here God.
Ons leef in u teenwoordigheid.

Amen