Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Vyf en Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 24 November 2023
MATTEUS 25:14-30
Jesus gebruik gelykenisse en verhale om sy dissipels te onderrig oor die geloofswaarhede van God se koninkryk. Verhale as onderrigmedium betrek die hoorder as aktiewe rolspeler by die gebeure. Matteus 25:14-30 is deel van Jesus se “Profetiese rede” oor die naderende eindtyd. In Matteus 16:21-28:2 rig Jesus Hom tot sy dissipels, as die kern van die nuwe gemeenskap van gelowiges. Die gelykenis oor ’n man wat op reis gaan en sy besittings toevertrou aan sy slawe, is die derde agtereenvolgende gelykenis wat handel oor voorbereiding vir die koms van God se koninkryk aan die einde van die tyd.
In die 2020-vertaling lees vers 14, “Want dit is net soos …” Die woord “dit” kan hier dui op die voorafgaande vers waar Jesus verwys na “die dag en die uur” wat hulle/ons nie ken nie (Matt 25:13). Die woord “dit” kan ook dui op “die koninkryk van die hemele” (Matt 25:1). Dit is hoe die New King James Version vers 14 vertaal: “Then the kingdom of heaven shall be likened…” Jesus is steeds besig om die dissipels se vraag in Matteus 24:3 te beantwoord. Ná Jesus se profesie oor die vernietiging van die tempelgeboue in Jerusalem, vra hulle Hom: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd?”
In ons gelykenis betrek Jesus sy dissipels nogeens by ’n storie oor die lewe. Hy sluit sy vertelling af met ’n oop einde en laat dit as’t ware aan sy hoorders oor om hul eie posisie in die verhaal te identifiseer. Met dié verteltegniek daag Jesus ook vir jou en my uit om te besin oor die appél van die gelykenis op ons lewe as volgelinge van Jesus. Hoe pas ons die besonderhede van hierdie gelykenis op ons eie lewe toe? Wat leer dit ons oor Jesus se aansporing om waaksaam te wees (vers 13)?
In die gelykenis vertel Jesus van vier karakters. Die een is ’n man met baie besittings wat slawe in sy diens gehad het. Daar is ook drie slawe aan wie die man sy besittings toevertrou voordat hy op reis sou gaan. Die man het sy slawe met sy besittings vertrou. Die slawe kon daarmee handel volgens hulle vermoë. Die man het vir ’n lang tyd weggegaan. Die slawe het nie geweet wanneer hy sou terugkeer nie. Verbeel jou dié situasie. Watter waardes en eienskappe sou ter sprake wees? Oorweeg waardes soos toewyding, betroubaarheid, lojaliteit, motivering en integriteit.
Volgens Jesus se gelykenis het twee van die slawe onmiddellik gaan woeker met wat aan hulle toevertrou is. Hulle het winste gemaak. Die derde slaaf het egter sy toevertroude deel weggesteek. Uiteindelik het die eienaar van sy reis af gekom en moes hulle verantwoording doen oor wat hulle gedoen het met die besittings wat hy aan elkeen toevertrou het. Hoe het hulle op hom gewag? Die eerste twee slawe is aangeprys oor hoe hulle die eienaar se besittings hanteer het. Die derde slaaf is egter veroordeel oor hoe hy op die eienaar gewag het.
Nou betrek die verhaal ook vir jou en my daarby. Binne die konteks van Jesus se onderrig oor die onbekende naderende eindtyd, moet ons self-ondersoek doen. Wat is die uitnodiging van dié gelykenis aan jou? Hoe daag dit jou uit om jou verstaan van dissipelskap in navolging van Jesus uit te leef? Die man met die een talent het vir die eienaar gesê: “Meneer, ek ken u … Omdat ek bang was het ek u talent in die grond gaan wegsteek.”
Hoe wag jy op Jesus vir Wie jy ken as jou Here?