TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Vierde week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 21 Junie 2024
MARKUS 4:26-34
In die vierde week van Koninkrykstyd in die Kerkjaar is die sentrale tema van Markus 4:26-34 dié van die ‘koninkryk van God.’ Hier beskryf Jesus verskillende aspekte van die ‘koninkryk van God’ in twee gelykenisse, terwyl Markus ’n verklaring gee oor die doel van Jesus se onderrig deur gelykenisse. Jesus het sy boodskap in dié vorm aangebied sodat sy dissipels en gehoor die inhoud van sy onderrig kon verstaan (vers 33). Volgens vers 34 blyk dit egter dat almal nie so maklik verstaan het nie, selfs nie sy eie dissipels nie. Jesus moes vir hulle alles uitgelê het wanneer hulle op hulle eie was (vers 35).
In vers 30 verwoord Jesus ’n vraag vir besinning: “Hoe sou mens die koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel?” Die vraag oor die koninkryk van God is die fokus vir die kerk in Koninkrykstyd. Daar is debat onder geleerdes oor die uitdrukking “koninkryk van God”. Vir dissipels van Jesus is dit belangrik om saam hieroor na te dink. Dit is te beperk om dié uitdrukking slegs te verstaan as geografiese of ruimtelike verwysing. Die dinamiese betekenis van ‘regeer’ of ‘heers’ (Grieks – basileia) moet verreken word. Deur albei perspektiewe op God se heerskappy vas te hou gee ons beter aanvoeling vir die karakter van God se werk en teenwoordigheid in ons wêreld vandag.
In vers 26-29 vergelyk Jesus die koninkryk van God met ’n man wat saad op die land uitstrooi. Wat wil Jesus kommunikeer oor die aard van die koninkryk? Gaan dit oor die geheimenisvolle groei van die saad? Dalk oor die karakter van die boer? ’n Derde moontlike fokus kan die land wees, of dalk al die elemente saam. Dit is egter kortsigtig om in isolasie oor elke element van die gelykenis afsonderlik te dink. Die gelykenis konfronteer ons met geheimenisvolle gebeure wat ons begrip oortref. Die punt is eerder dat God se heerskappy (koninkryk) oral en altyd gebeur. Vir mense wat met bewussyn lewe is daar oral tekens van God se aanwesige koninkryk. Ons het nie beheer oor God se onverklaarbare werk nie. Met dié gelykenis kommunikeer Jesus dat die misterieuse koninkryk van God ons roep om God se doel na te streef en van ons eis om toepaslik op te tree in die nakom van ons roeping.
Die tweede gelykenis oor die mosterdsaadjie (vers 31-32) maak ons weer bewus van ’n ander element van die koninkryk van God. Dit is dalk nie feitelik korrek dat die mosterdsaad die heel kleinste van alle sade is nie. Dit is wel belangrik om die paradoks in te sien tussen die klein saadjie en die uiteindelik groei tot iets groot en insluitend. Wat is die punt van vergelyking tussen die koninkryk van God en die uiteindelike rol (funksie) wat die mosterdboom volgens die gelykenis vervul?
’n Moontlike uitleg van die gelykenis van die mosterdsaad is dat hierdie boom nie een van die mooiste en mees gesogte bome in die skepping is nie. Nietemin doen God wat net God kan doen, met voordele wat duidelik slegs die resultaat is van God se skeppingswerk. Hier is Jesus se voorstelling van hoe God werk. Dit is God se manier om die koninkryk te laat groei. Wanneer God sy werk doen, kom die voëls van die hemel en maak hul neste in die skadu van die boom. Dit is nie iets wat mense doen nie.
Jesus se boodskap is dat sy dissipels hulle nie moet bekommer nie. Sy dissipels moet onthou wie God is en wat Hy belowe het. Ons moet besef dié klein begin is die vertrekpunt vir God se bedoelde koninkryk, wat uiteindelik beskermende skaduwee voorsien vir die ganse mensdom. In die lig van hierdie perspektiewe word Jesus se dissipels uitgedaag om te bepaal wat ons vandag moet doen om koninkrykswerkers en uitleggers van die koninkryk te wees. Hoe kan ons mense help om van die koninkryk van God bewus te wees en te ervaar dat God almal uitnooi om daarvan deel te wees?