Saam met Jesus in die stormsee

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Vyfde week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 28 Junie 2024

MARKUS 4:35-41

Markus 4:35-41 openbaar nog ’n gestalte van God se teenwoordige koninkryk in die wêreld. Ons onthou hoe Jesus aan die begin van sy bediening aankondig die koninkryk van God is op hande. Hy het sy gehoor opgeroep om hulle te bekeer en om die evangelie te glo (1:15). Hy openbaar sy gesag in die roeping van die dissipels, genesing van siekes, prediking, lering oor godsdienstige sake en konflik met die Joodse leierskap, asook in wie sy nuwe familie is (1:16-3:35). Jesus gebruik gelykenisse om die mense te leer oor wat die ‘koninkryk van God’ beteken (4:1-34). In Markus 4:35 begin ’n reeks verhale oor wonderwerke wat Jesus gedoen het. Daarin openbaar Jesus nogeens sy gesag as verkondiger én verteenwoordiger van die koninkryk van God wat op hande is.

Jesus se opspraakwekkende daad in ons Skrifdeel vind plaas waar Hy saam met sy dissipels in ’n boot is. Hulle het na die oorkant van die See van Galilea gevaar om ook daar die evangelie aan mense te verkondig wat Jesus oraloor gevolg het. Tydens dié vaart oor die see, wat vir die dissipels ’n bekende ervaring moes wees (hulle was immers vissers wat op die see gewerk het), steek daar ’n hewige stormwind op wat selfs die ervare vissermanne angstig gemaak het. Op die bekende waters waar hulle daagliks hul brood verdien het, oorval die natuurkragte hulle en word hul seemansvernuf beproef.

Ons móét kennis neem van wat daardie dag op die see gebeur het. Ons móét ook die alledaagsheid van die situasie insien. Dinge gebeur daagliks met ons op heel bekende plekke terwyl ons besig is met algemene aktiwiteite. Markus se vertelling beklemtoon egter Jesus se identiteit en sy gesag oor die skepping. Jesus demonstreer gesagvol dat God se heerskappy (koninkryk) in Hom as die Seun van God (Mark 1:1) werksaam is. Daar op die see in ’n boot terwyl die stormwind woed, word die dissipels gekonfronteer met hul oënskynlik oppervlakkige idees oor wie Jesus is. Sy gesagvolle optrede ruk hul verwagtinge van wie Jesus is en waartoe Hy instaat is uitmekaar. Daarom hul verwonderende vraag: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” (vers 41)

Markus se verhaal oor die storm op die see, bevat nog drie vrae wat Jesus se reisgenote (die dissipels) se geloof onder die vergrootglas plaas; ’n vraag aan Jesus en twee vrae aan die dissipels. Hierdie vrae daag ook vir jou en my vandag uit om eerlik intropeksie te doen oor die geloofbasis waarop ons dissipelskap (navolging van Jesus) berus. As die storm op die see woed en Jesus ongestoord agter in die boot op die kussing slaap, maak die angsbevange dissipels Jesus wakker en vra hulle Hom verwytend of Hy nie omgee dat hulle vergaan nie (vers 38). En nadat Jesus dan met enkele woorde die wind bestraf en die see kalmeer het, vra Hy op sy beurt vir die dissipels twee indringende vrae: “Waarom is julle bang?” En: “Het julle steeds nie geloof nie?” (vers 40)

Die drie vrae laat my wonder oor my verwagtinge van Jesus én oor die aard van my verhouding met Jesus. Die verwytende toon waarmee die dissipels Jesus aanspreek, skep die indruk dat hulle nie oortuig was dat Jesus werklik net die beste vir hulle wou hê en doen nie. Jesus se twee vrae aan die dissipels andersyds, laat my weer peins oor die erns van my vertroue op die Here te midde van die alledaagse kwellinge. Ek moet eerlik uitklaar of ek werklik glo Hy kán my omstandighede verander en die kragte wat ons bedreig beheer.

Markus skryf dat die wind daardie dag op die see werklik gaan lê het en dat daar inderdaad ’n groot kalmte gekom het. (vers 39) Ja, God se koninkryk is op hande. Jesus is die Seun van God. Dit is die evangelie van Jesus Christus. (1:1)