GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 1 JULIE 2024
RCL JAAR B – SESDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 30 [lees 2020-vertaling])
Here my God, die psalmis se lied (Psalm 30) –
by die inwyding van die huis van Dawid (die tempel),
is sy waarderende herinnering aan die voorreg
om U in die tempel te aanbid.
Dit is die plek vir gelowige bidders,
om U te verheerlik, Here; by U stil te wees.
Dié tempelwydingslied wek ook in my hart,
vreugde oor ’n plek waar ek U kan aanbid.
Ek verheerlik U, Here, vir ’n ruimte –
om saam met geloofsgenote U te aanbid.
Ek kan u heilige Naam nie genoegsaam prys,
vir u ruimtes van aanbidding nie.
Dankbaar roep ek met die psalmis gelowiges op:
Besing die Here, sy getroue volgelinge, prys sy Naam!
Die Here my God het my lewend gehou.
Sy goedheid duur ’n lewe lank.
Daar is ook ander ruimtes vir aanbidding, Here.
U nooi elkeen om op elke plek tot U te nader.
U is oral beskikbaar as ons U wil opsoek.
Ons kan U in Gees en in waarheid dien.
Ook ons liggaam is u tempel, Here.
Waar ookal die tempelruimte vir ontmoeting, Here my God –
word ek bewus van U as getroue Transformeerder.
U verander ons omstandighede terwyl ons slaap.
U laat ons soggens opstaan met verligte harte.
U goedsgesindheid hou my / hou ons in die lewe.
Here, my God, ek sal U vir altyd prys.
Waar U verskyn in aardse tempelruimtes, Here –
besef ek hoe afhanklik ek van U is vir elke asemteug.
U ontmasker my selfvoldane steun op eie vermoë.
Ek soek u aangesig wanneer ek wankel.
Here, U keer my lewe om.
U verander my rouklag in koordans.
My hele wese kan U besing.
Ek sal nie stilbly nie.
Here, wees vir my ’n helper.
Amen