TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sesde week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 5 Julie 2024
MARKUS 5:21-43
Ons reflekteer nog oor gestaltes van God se teenwoordige koninkryk in die wêreld. Die reeks wonderverhale in die Markusevangelie (vanaf 4:35) demonstreer Jesus Christus se Heerskap. Hy is die verkondiger én verteenwoordiger van die koninkryk van God wat op hande is. Die twee stories in ons Skrifdeel vorm saam die derde eenheid van die siklus van wonderwerke. Markus het reeds aangedui Jesus is Here oor die natuur (4:35-41), asook oor demoniese magte (5:1-20). Markus 5:21-43 openbaar Jesus se gesag ook oor siekte en dood.
Ons Skrifdeel verhaal die twee insidente in ’n toebroodjie struktuur. Dit begin (22) met die aankoms van Jaïrus wat Jesus vra om sy hande te kom lê op sy sterwende dogtertjie. Wanneer Jesus saam met Jaïrus vertrek om hande op die dogtertjie te lê, word Jesus onderbreek deur ’n vrou in die skare wat ongesiens van agter kom en aan sy bokleed raak (25-34). Terwyl Jesus nog met haar praat (35) nadat Hy haar genees het, kom mense van Jaïrus se huis af met die nuus dat die dogtertjie gesterf het. Markus sit dan sy vertelling oor die opwekking van die dogtertjie voort, tot by vers 43. Die verhaal van die dogtertjie omsluit dus die verhaal van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.
Daar is interessante motiewe wat die twee stories onderling verbind: (i) Twee vroulike karakters met gesondheidsuitdagings; (ii) Een is Jaïrus se dogter, die ander word deur Jesus as ‘dogter’ aangespreek; (iii) Die bloedvloeiing het reeds 12 jaar geduur, terwyl die dogtertjie 12 jaar oud was; (iv) Subtiel maar belangrik, is die kwessie van geloof as deurslaggewende faktor in beide die genesing en die opwekking. Met die toebroodjie struktuur en onderliggende motiewe lewer die stories op mekaar kommentaar. Binne die konteks van die eerste eeuse kultuur het die bloedvloeiing die vrou as’t ware sosiaal dood verklaar. Haar interaksie met Jesus was soos om uit die dood opgewek te word.
Om verskillende redes bring die geloof van ’n angstige vader en ’n moedverlore vrou albei karakters by Jesus uit. In die interaksie tussen Jesus en hierdie karakters word ons bewus van die ware diepte en omvang van Jesus se krag (gesag oor lewe en dood). Jesus se krag is so groot dat hier genesing van Hom uitgaan selfs al is Hy nie ten volle bewus van die werking daarvan nie. Selfs wanneer die dogtertjie sterf terwyl Jesus nog na haar toe op pad is, is sy nie buite sy kragveld nie en herstel Jesus haar lewe.
Vir ons nadenke oor dissipelskap en God se teenwoordige heerskappy in ons wêreld, is antwoorde op twee vrae vir ons belangrik: (i) Wat beteken geloof hier? en; (ii) Wie is dié Jesus wat siekes genees en dooies opwek? Die twee verhale leer ons dat ware geloof aspekte inhou van herkenning (van Jesus), afhanklike vertroue (in Jesus) en risiko (om Jesus te nader). Beide Jaïrus en die vrou was in die nood, het iewers van Jesus gehoor en in wat hulle van Hom gehoor en dalk gesien het, die krag van God herken wat genesing en heling kan bewerk. Albei persone het aksie geneem in verhouding met Jesus. Hulle hoop het oorgegaan in vertroue en hulle het gedoen wat hulle beskou het as noodsaaklik om hul nood te verlig. Wat sou die risiko’s wees wat Jaïrus en die vrou moes verreken?
Die verhaal wys vir ons Jesus het ooglopend die krag om siekte te genees en om lewe te herstel. Ons sien ook Jesus se deernis vir mense en dat Hy met volle aandag op elke versoek reageer. Jesus roep die vrou nader, nie om haar te tug nie maar om haar te versterk. Te midde van die twyfel en gelag van Jaïrus se familie, gaan Jesus voort om die dogtertjie op te wek. In Jesus sien ons die krag van God in die wêreld werk vir heling en lewe. Dit beteken verlossing wat ware vrede inhou, die evangelie wat ons verkondig.