Om God in simbole van geloof raak te sien

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 1 JULIE 2024
RCL JAAR B – SEWENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 48 [lees 2020-vertaling])

Groot is die Here, Heerser oor alle magte.
Daarvan getuig die Koragiete in Psalm 48,
wanneer hulle u teenwoordigheid herken
in die bouwerk van Jerusalem.

Here, die Koragiete se aanbiddings liturgie –
beskryf hoe waardevol is godsdienstige simbole,
vir ons wat U as ons God bely en dien;
U, Heerser oor alle magte.

So kragtig is die simbole van ons geloof, Here –
dat die Koragiete u lof indirek besing,
ten aanskoue van asemrowende argitektuur;
die stad en tempel van ons God.

Ons heg waarde aan godsdienstige simboliek, Here.
Dit herinner ons aan u teenwoordigheid by ons.
Dit verteenwoordig die sekuriteit wat U bied.
Dit laat ons op U vertrou; ons Veilige Vesting.

Here, wanneer ons saam met die Koragiete –
in ons verbeelding om die stad Jerusalem stap
en die tempel van ouds binnegaan om U te dien,
dink ons na oor u troue liefde in ontelbare situasies.

Here, Heerser oor alle magte, God van troue liefde –
die Koragiete se simbole van geloof; stad en tempel,
maak ons sensitief vir ons eietydse simbole van geloof;
geboue en praktyke wat ons aanbidding bemiddel.

Ons kan saam met voorgeslagte juig en jubel:
Groot is die Here en besonder lofwaardig.
Ons God is bekend as ’n toevlugsoord.
Hy sal ons lei vir ewig.

Here, ons is diep bewus dat simbole ons kan verlei.
Ons kan U vasbind in ons denkbeelde en handewerk;
U inbeperk en vir onsself opeis,
selfsugtig ander uitsluit van u troue liefde.

Help ons Here, Heerser oor alle magte –
om U opreg en toegewyd te dien,
sodat toekomstige geslagte én buite mense,
ook u Naam tot die eindes van die aarde kan loof.
Amen