TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sewende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 12 Julie 2024
MARKUS 6:1-13
Die eerste reeks wonderverhale in die Markusevangelie strek oor 4:35-6:6a. Markus het reeds aangedui Jesus is Here oor die natuur (4:35-41), oor demoniese magte (5:1-20) en oor siekte en dood (5:21-43). Die wonderverhale, soos ander gestaltes van Jesus se heerskappy, bevestig dat Hy beide verkondiger én verteenwoordiger is van God se op hande koninkryk (1:15). Markus vertel egter ook dat almal nie die werking van God se krag deur Jesus kan herken in hul leefwêreld nie, soos die inwoners van sy tuisdorp in ons Skrifdeel. Dié mense het aan Hom aanstoot geneem (6:3).
Jesus verskyn in sy tuisdorp waarheen sy dissipels Hom gevolg het (6:1-2). Op die Sabbat besoek Jesus die sinagoge waar Hy die mense begin leer het. Hy het indruk gemaak op van die mense. Baie van hulle wat Jesus daar gehoor het, was `verwonderd’ oor sy lering en wysheid, wat hulle laat vra het oor die bron van Jesus se wysheid en krag. Die mense het Jesus se plaaslike herkoms herken, maar kon nie God se koninkryk in Hom herken nie. Ten spyte van hul ‘verwondering’ kon hulle nie erken Jesus is die Seun van God nie (1:1). Hulle eindig in verwerping van en aanstoot aan Jesus.
Jesus beoordeel die optrede van die mense van sy tuisdorp en verklaar dat ’n profeet wel eer ontvang, behalwe in sy tuisdorp en binne sy eie familiekring (vers 4). Sy eie mense is vasgevang in hul denke en vooroordele oor die plaaslike skrynwerker. Hulle kan nie God se kragtige genadewerk herken in en deur ’n mede-dorpenaar nie. Markus se kommentaar is dat Jesus daar nie ’n kragtige daad kon verrig nie, behalwe genesing van ’n paar mense deur handoplegging. Uiteindelik is Jesus diep teleurgestel oor sy eie mense: “Hy was verbaas oor hulle ongeloof.” (vers 6a)
Vers 6b-13 van ons Skrifdeel bevat ’n tweede storie wat ’n ander toneel beskryf. Vers 6b plaas Jesus se optrede wel in die omgewing van sy tuisdorp. Na sy verwerping deur sy eie mense en sy verbasing oor hul ongeloof, gaan Jesus voort met sy bediening in naburige dorpies. Soos Jesus die mense in die sinagoge van sy tuisdorp begin leer het (vers 2), onderrig Hy ook die mense in dié dorpies. Die klem is op Jesus se taak as leermeester. Binne dié konteks roep Jesus sy dissipels en stuur hulle uit met gesag oor onrein geeste (vers 7), as teken van God se teenwoordige koninkryk.
In vers 8-11 gee Jesus streng opdragte aan sy dissipels vir ’n dringende taak binne die konteks van die kritiese omstandighede van sy bediening. As koninkryk-boodskappers moet hulle die mense waarsku dat iets binnekort gaan gebeur. Die mense moet luister en hulle bekeer (vers 12; vgl. 1:15). Daar is nie tyd vir voorbereiding en onnodige beplanning nie. Hulle moet staat maak op plaaslike gasvryheid. Jesus berei egter sy dissipels voor vir verwerping, soos Hy in sy tuisdorp ondervind het (vers 11). Hulle boodskap sal nie oral welkom wees nie. Vir sodanige situasie skryf Jesus ’n spesifieke simboliese handeling voor, naamlik om daarvandaan weg te gaan en die stof van hul voete af te skud. Hulle moet nie tyd verspil nie, want die boodskap moet oral en na almal uitgedra word!
Jesus se dissipels het onmiddellik reageer op sy opdrag. Hulle het gedoen waarmee Jesus besig was, met die gesag wat Hy aan hulle vir dié besondere tyd en taak toegeken het. Die dissipels het verkondig dat mense hulle moet bekeer, hulle het demone uitgedryf, hulle het siekes gesalf en gesond gemaak (vers 12-13). Die dissipels moes leer dat gehoorsaamheid aan Jesus se roeping en opdrag, behels dat hulle moet luister na beide God se profetiese roepstem én na die seer (nood, behoeftes, pyn) van die wêreld waarin hulle leef. Dissipels leef op die ontmoetingspunt van God se roeping en die nood van die wêreld. As God roep moet ons reageer op die dringendheid van die tyd en die taak.