Self-ondersoek om God te ontmoet

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 15 JULIE 2024
RCL JAAR B – AGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 24 en 2 Samuel 6:1-9 [lees 2020-vertaling])

Here, ons is hier om tot U te nader in gebed.
Ons reageer op u uitnodiging om by U te wees.
In Koninkrykstyd bely ons, alles behoort aan U;
die aarde en die volheid daarvan,
die wêreld en dié wat daarin woon.

Maar, wanneer ons U opsoek, Here –
dring u heligheid ons tot self ondersoek.
Elkeen wat u nader en u aangesig soek,
móét bepaal hoe ons na U toe kom;
Is dit met skoon hande en ’n rein hart?

Here, die psalmis lei u volk na die Tempel.
Dawid besef ons menslike aanbidding,
kan ’n struikelblok wees, selfs lewensgevaarlik.
Hy onthou immers hoe hy en sy manskappe,
die ark van God in Baäla wou gaan skuif. (2 Sam 6:1-9)

Ussa het sy hand na die ark van God uitgesteek.
U toorn het Ussa getref oor sy oneerbiedigheid.
Dawid het daardie dag bang geword vir U, Here;
nié die ark van God na die Dawidstad geskuif nie,
maar eers gewag op u seën en vreugde.

Dawid se toenaderingslied leer ons, Here –
om u teenwoordigheid te eerbiedig.
Hy leer ons om eers te peins oor wie U is,
en ons innerlike te ondersoek:
Is my hande skoon en my hart rein?

Here, ons soek u teenwoordigheid op –
omdat ons u seën verlang, u geregtigheid.
Ons aanbid U as roemryke Koning,
bely ons geloof in U as Skepper-Koning;
aan U behoort die aarde en die volheid daarvan.

Here, U maak ons gereed om tot U te nader.
U reinig ons harte en was die onreg van ons hande.
Daarom waag ons dit in u teenwoordigheid,
lig ons die hande in eerbied op na u troon.
Pleit ons dat u poorte vir ons oop sal gaan.

Here, Heerser oor alle magte.
U is die roemryke Koning.
Amen