TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Agste week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 19 Julie 2024
MARKUS 6:14-29
Markus 6:14-29 is deel van die Markusevangelie se fokus op Jesus se wonderwerke wat vanaf 4:35 vertel word. Markus lê klem op Jesus se wonderwerke as een gestalte van Jesus se heerskappy, wat bevestig dat Hy beide verkondiger én verteenwoordiger is van God se koninkryk wat op hande is (1:15). In ons Skrifdeel vertel Markus dat Koning Herodes óók kennis geneem het van Jesus se kragtige dade en dat hy, soos ander van sy tyd, oor Jesus se identiteit wonder. Herodes se standpunt was: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.” (vers 16)
Jesus se wonderwerke is inderdaad belangrik vir Markus se vertelling van Jesus se aardse bediening. In die vertelling wat volg op ons Skrifdeel lees ons van Jesus se eerste vermeerdering van brood (vers 30-44), van Jesus wat op die water loop (vers 45-52) en van Jesus wat mense in Gennesaret genees (vers 53-56). In ons Skrifdeel verwys Markus juis na die opspraak wat Jesus se kragtige dade veroorsaak het, maar stel dan vir Herodes aan die woord en gee ’n terugblik op die gebeure wat gevolg het op Johannes die Doper se gevangeneming. Dit is asof Markus homself hier onderbreek.
Natuurlik bied die vertelling oor die lewe en getuienis van Johannes die Doper in sy verhouding met Herodes en sy vrou Herodias, veel stof vir ons nadenke oor dissipelskap en geloof. Die Doper se onwrikbare kritiek teen Herodes se huwelik met Herodias is vir ons ’n voorbeeld van wat dissipelskap van ons vra. Dat Herodes graag na die Doper geluister het al het sy boodskap die Koning in vertwyfeling gebring (vers 20), beklemtoon ook die gesag van die Doper se verkondiging. Die vraag is egter wat Markus se bedoeling is om die verhaal van Johannes die Doper se dood, op hierdie punt te vertel.
In Markus se vertelling gaan dit in hierdie Skrifdeel oor Jesus se Naam wat bekend geword het. Dit is vir Markus belangrik dat die antwoord op die vraag na Jesus se identiteit, die kern moet belig van wie Jesus is. Ja, Jesus dóén kragtige dade. En ja, Markus wíl dit beklemtoon. Maar, die interessante vertel tegniek wat Markus hier toepas, skep ten minste die indruk dat hy die aandag op ’n ander aspek van Jesus se identiteit wil vestig. In die tegniek speel die verhaal van Johannes die Doper inderdaad ’n belangrike rol. Markus laat sy lesers terug kyk met die oog op wat die toekoms inhou.
In Markus se vertelling vervul Johannes die Doper die rol van God se boodskapper wat die weg vir Jesus se bediening moes voorberei (1:1-9). Johannes se perspektief op die eindtyd, sy bediening en prediking, sy bymekaarmaak van dissipels en sy uiteindelike dood, het alles vooruit gewys op Jesus se eie bediening. Markus neem ons dus terug na die begin van sy vertelling. Hy wil ons op die toekoms rig en vooruit laat dink oor wat Johannes se lewe en dood vooruitwys oor Jesus se aardse bediening. Wat leer ons oor Jesus se identiteit in die lewe van Johannes die Doper?
In die vertelling oor Johannes die Doper se dood, bied Markus ’n toekomsblik op Jesus se dood. Markus beklemtoon dat die krag om wonderwerke te doen nie Jesus se diepste identiteit openbaar nie. Vir Markus is die kruis die sleutel wat ons in staat stel om werklik te verstaan wie Jesus Christus is. Eers wanneer ons Jesus ken as die Gekruisigde wat sy lewe as offer vir baie mense gegee het, weet ons Hy is die Seun van God. Die verhaal oor Johannes se dood, vestig ons aandag op die dood wat nog op Jesus se bedieningspad wag. Daarom is die kern van Markus se boodskap in ons Skrifdeel dié vraag: Hoe beoordeel jy en ek vir Jesus? Hy het gelewe en gesterwe in sy bediening om die mensheid te red.
Ons is geroep om Jesus te verkondig, aan mense wat van Hom gehoor het want sy Naam is bekend.