GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 22 JULIE 2024
RCL JAAR B – NEGENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 89 en 2 Samuel 7:1-14a [lees 2020-vertaling])
Here, ons gebed vir hierdie week –
sluit aan by Psalm 89 (’n Maskiel) van Etan, die Esragiet.
Hy verklaar dat hy altyd oor u troue liefde wil sing.
Hy dink (in vers 20) aan ’n belofte wat U destyds,
aan u getroue volgelinge gemaak het.
Die gedagte wat my roer en na U toe dwing, Here –
is woorde van Etan oor ’n jong man wat U uit die veld verhoog het.
U het Dawid, u dienskneg gevind en met heilige olie gesalf.
U het besluit om hom eersgeborene te maak.
die hoogste van die konings van die aarde.
Here, dat U ’n mens of ’n groep mense kies om U te dien –
gaan my verstand te bowe – dit is te groot vir my begrip.
Etan se Maskiel vertel van u belofte oor Dawid:
U sal vir hom u troue liefde handhaaf.
U verbond sal vir hom bestendig wees.
Here, U kies wie U begunstig met u troue liefde.
Die verhaal oor u keuse vir Dawid (2 Sam 7) bevestig dit,
en laat my glimlag oor u humorsin, Here van troue liefde.
U vra of Dawid vir U ’n huis gaan bou om in te woon. (2 Sam 7:5)
Dan maak U bekend U gaan vir Dawid ’n huis oprig. (2 Sam 7:11)
U besluit om vir Dawid ’n huis op te rig, Here –
roer Etan se begeerte om u troue liefde te besing.
Vir Etan, én vir ons, is u verkiesende liefde oorweldigend.
U beloof om Dawid se nageslag vir altyd te vestig,
sy troon solank as die hemel bestaan.
Here, U het ons ook as u eiendom gevind en verhoog.
Ons glo U het ons in Christus gekies as u huis.
Ons hou vas aan u heilige eed waarvan Etan getuig;
Dat U nie vir Dawid en sy huis sal lieg nie.
Dat sy nageslag altyd daar sal wees.
Here, ons wil saam met Etan oor u troue liefde sing.
Ons is verwonderd dat U kies om mense te begunstig.
Ons is sprakeloos oor u verbintenis aan ’n mens en sy huis.
Hier is ons om U aan te roep soos Etan oor Dawid getuig:
U is my Vader, my God, die rots wat my verlos.
Amen