Mense het ‘n intense honger na Jesus

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Negende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 26 Julie 2024

MARKUS 6:30-34,53-56

Markus 6:30 neem ons terug na 6:7-13 waar Jesus die twaalf uitgestuur het om in die omgewing rond te gaan en die mense te onderrig. Hulle het gepreek dat die mense hulle moet bekeer (vers 12) en hulle het baie demone uitgedryf, asook siekes met olie gesalf en gesond gemaak (vers 13). In vers 30 vertel Markus nou dat hulle terugkeer en aan Jesus rapporteer wat hulle gedoen het. Jesus reageer met deernis en begrip vir die twaalf. Hy nooi hulle uit om saam met Hom na ’n verlate plek te gaan om te rus na hulle uitputtende uitreik in die omgewing. Markus gee nog agtergrond inligting oor hulle konteks, naamlik dat daar voortdurend mense was en dat hulle selfs nie kon eet nie (vers 31).

Ons Skrifdeel laat die tien verse (35-44) uit wat vertel hoe Jesus die vyf brode en twee vissies vermeerder, asook die agt verse (45-52) wat vertel dat Hy op die water loop terwyl die dissipels worstel met die roeiery op die see en die wind teen hulle. Na vers 34, spring ons oordenking na vers 53, waar Jesus en die twaalf in Gennesaret aan wal gaan. Vers 54 vertel dat die mense daar vir Jesus dadelik herken het en dat hulle dié wat siek was, op slaapmatte begin aandra het na waar hulle gehoor het Jesus is. Daar het niks gekom van Jesus se voorneme dat Hy en die twaalf op hul eie sou rus nie.

Ons het al kennis geneem van dIe interessante vertel tegnieke wat Markus gebruik om sy verhaal oor die evangelie van Jesus Christus te vertel. Die twee passasies waaruit ons oordenking bestaan vertel albei van baie mense wat met hulle behoeftes na Jesus toe gekom het (verse 31, 33, 55-56). Hulle het van oraloor na Jesus toe gestroom (vers 33). Jesus het die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry. Hy het gesien dat hulle soos skape sonder ’n herder was. Jesus het hulle nood, hulle behoefte raakgesien en daarop reageer. Hy het hulle uitvoerig begin onderrig (vers 34). Die siekes het Jesus gesmeek om selfs net die soom van sy bokleed aan te raak en Jesus het gehoor gegee; almal wat Hom aangeraak het, is genees (vers 56).

Die verse wat in ons oordenking uitgelaat word, bied eintlik ’n belangrike sleutel om die hele gedeelte te ontsluit. Dit gaan immers oor die skare se fisiese honger. Die dissipels wil die mense wegstuur om vir hulleself iets te ete te gaan koop (vers 36), maar Jesus gee opdrag dat sy dissipels vir hulle iets te ete moet gee. Nadat Jesus die brood en vissies vermeerder het, het almal geëet en versadig geword (vers 42). Die skare was honger vir kos omdat hulle heeldag na Jesus toe gestroom het. Ons lees in vers 31 die dissipels het nie kans gekry om te eet nie, want daar was baie mense wat gekom en gegaan het. Jesus se wonderwerk met die vermeerdering van brood en vissies, asook die tema van fisiese honger en eet, beklemtoon die nood van mense en bring die metafoor van honger onder ons aandag.

Jesus het die mense se honger gesien en hulle innig jammer gekry. Hy en sy dissipels het op die mense se honger reageer en hul eie behoefte aan eet, rus en afsondering, opgeoffer ter wille van die mense se honger. In ons Skrifdeel breek die koninkryk van God deur wanneer Jesus sy dissipels se honger na rus raaksien, wanneer Jesus die verdwaaldheid van die mense opmerk en hulle begin onderrig, wannneer siekes naby Jesus neergesit word en pleit om net die soom van sy bokleed aan te raak en hulle genees word. Die mense in Jesus se omgewing vertoon allerlei gestaltes van honger, maar ten diepste is dit die intense honger na Jesus self, as die Koninkryk van God wat op hande is.

As dissipels van Jesus moet ons ingestel wees op die honger van mense, op hul koersloosheid en soeke na ’n herder. Ons moet soos Jesus jammer voel vir mense in nood en ons moet daarop reageer met die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (1:1).

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *