GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 29 JULIE 2024
RCL JAAR B – TIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 14 [lees 2020-vertaling])
Here, U kyk uit die hemel na ons op aarde.
U kyk diep in ons menslike harte in.
U sien wie na U alleen verlang.
Is daar dálk iemand verstandig?
Soek iemand onder ons na U?
Ek is verwonderd, Here –
dat U nog van ons bewus is.
Intenser is my teleurstelling, Here –
as die psalmis u vraag beantwoord:
U sien nie één verstandige by ons nie!
Here, ons staan ontnugter voor U –
oor die prent wat U van ons sien;
almal afgedwaal, saam ontaard,
nie een wat goed doen nie;
net dwase…
Is dit wat U in my / in ons sien, Here?
Mense wat onreg pleeg;
gruwelik en afstootlik optree.
Dwase, wat U bestaan ontken;
U, die Here, nie aanroep nie.
Goddank, die psalmis skets nog ’n prentjie.
U, Here, sien ook die regverdige geslag;
U is met hulle, bely die psalmis.
U ken en sien die magtelose mens;
hulle word bespot, maar skuil by U.
Here, dat U méér sien as dwaasheid –
laat die lig vir ons deurbreek,
wek hoop ook in my vir iets nuut.
In my verstandlose dwaasheid,
skuil ’n magtelose wie U moet red.
In ’n oomblik van begenadigde insig, Here –
soek ons met die psalmis na God,
bely ons saam: God is daar!
Hoor ons verlange, Here;
red ons uit die hemel,
verlos ons van dwaasheid.
Amen