Jesus sê vir hulle: “Dit is Ek.”

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Tiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 2 Augustus 2024

JOHANNES 6:1-21

Revised Common Lectionary onderbreek die lesings uit Markus se evangelie vir Koninkrykstyd (Week 10-14), met vier agtereenvolgende lesings uit Johannes 6. Hierdie eerste lesing uit Johannes 6 fokus juis op die parallelle gedeeltes wat die vorige week met die Markus lesing weggelaat is, naamlik Jesus se vermeerdering van die brood (Mark 6:35-44), asook Jesus wat op die see loop (Mark 6:45-52). Ons Skrifdeel is in die eerste deel van die Johannesevangelie (hfst 2-12), die sogenaamde Boek van Tekens.

N.T. Wright (Nuwe Testament geleerde) skryf dat niks in die Johannesevanglie toevallig genoem word nie. Ons moet fyn luister vir leidrade (tekens) wat op ’n dieper vlak betekenis ontsluit. Vers 2 vertel dat die groot skare die tekens gesien het wat Jesus vir die siekes verrig het en hulle het agter Hom aangekom. Nadat Jesus die brood en die visse vermeerder het, beskryf die Evangelis Jesus se wonderwerk as ’n teken (vers 14), waarop die skare reageer met ’n interpretasie van wie Jesus is. Jesus rig nog ’n teken op as Hy op die see loop (vers 19).

Vers 4 gee ’n tydsaanduiding vir die teken van Jesus se kos vermeerdering: “kort voor die Joodse fees van die Pasga.” Die hele Johannes 6, word oorheers deur die tema van veral een aspek van die Pasga, naamlik dat God die Israeliete gedurende die woestyntog met brood uit die hemel gevoed het (Lees Eks 16). As Johannes na die Pasga verwys, herinner hy ons dat God Israel uit Egipte bevry het, deur die woestyntog versorg en die beloofde land ingelei het. Nou vermeerder hy wonderbaarlik brood en vis om die skare te voed. Later in die hoofstuk hoor ons weer Jesus aansluit by die tema van brood.

Nog ’n betekenisvolle leidraad in ons Skrifdeel is die manier waarop Johannes vir Filippus en Andreas betrek en aan die woord stel (in die ander Evangelies praat hulle nie). Dit lyk of hulle verskillende rolle in die dissipelgroep vervul het. Filippus ontleed die situasie en oordeel die uitdaging is buite hul beheer (vers 7). Andreas glo ook nie hulle het ’n oplossing nie, maar bring wel die seun met vyf brode en twee visse na Jesus toe, al dink hy dit is net ’n druppel in die emmer (vers 9). Andreas het dus tussen die mense rondbeweeg en kontak gemaak. Jesus gebruik dit wat Andreas na Hom toe bring.

Die skare reageer op die teken wat Jesus gedoen het (vers 4). Hulle sien Hom as “die Profeet wat na die wêreld sou kom.” Dit herinner aan Johannes die Doper wat nadruklik sê hy is nié die Profeet nie, maar die stem van een wat in die woestyn uitroep om die pad vir die Here reguit te maak (Joh 1:21, 23). Hier in vers 4 identifiseer die skare Jesus as die figuur wat Deuteronomium 18 “’n profeet soos Moses” noem. Hy sal as leier vir die mense doen wat Moses gedoen het. Die skare lê ’n verband tussen Jesus se teken, die beloofde Messias en hul verwagtinge van ’n koning wat hulle van die Romeinse juk moet verlos. Jesus reageer afwysend op hul koningskap verwagting (vers 15).

Johannes glo en wil sy lesers laat glo Jesus is inderdaad die Messias, die profeet soos Moses. Ten spyte van hul identifikasie van Jesus as die verwagte Profeet, wys die skare se poging om Jesus koning te maak hulle verstaan nie werklik wie Jesus is nie. Wanneer Jesus in vers 20 met die bang dissipels praat terwyl Hy op die see loop, kalmeer Hy hulle en identifiseer Homself met die uitdrukking, “Dit is Ek.” Dié woorde herinner aan God se verskyning aan Moses, waar Hy op Moses se vraag na sy naam reageer: “Ek is Wie Ek is.” (Eks 3:14) Jesus stel Homself met hierdie Godsnaam bekend. In die Johannesevangelie stel Jesus Homself telkens bekend met “Ek is”-uitsprake.

Johannes wil ons leer om fyn en diep te luister. God is teenwoordig in die alledaagse gebeure. Hy voed ons en klim by ons in die boot as die winde ons bedreig. Sien jy die tekens en hoe lees jy dit?