Die Here gee kos uit die hemel

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 5 AUGUSTUS 2024
RCL JAAR B – ELFDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 78:23-29, saam met Eksodus 16:2-15 [lees 2020-vertaling])

Here, U sorg vir mens en dier.
Hoe U dit dag vir dag volhou,
is menslik onverklaarbaar.
U ewige voorsiening en sorg,
is ’n geheimenis, ’n misterie.

Ons kan verhale deel, Here –
dat U ook vir óns sorg.
Al verstaan ons nie die misterie
van hoe U ons versorg nie,
móét ons getuig, U sorg vir ons.

Here, aangrypend getuig Eksodus 16 –
van U sorgende liefde;
laatmiddag het U kwartels voorsien,
in die oggend manna om die kamp.

U geheimenisvolle voorsiening, Here –
inspireer Asaf om Psalm 78 te skryf;
’n gebed oor hoe U destyds,
u volk in die woestyn versorg het.
Beeldryk beskryf Asaf dié misterie.

Asaf sien u voorsorg in die woestyn, Here –
as u bevel aan die wolke, die oopmaak
van die hemelse deure om te voorsien
wat nodig was vir lewe op hul woestyntog.
Brood en vleis elke dag, ongeag hul gemor.

Here, in Asaf se verbeelding –
Was die manier waarop U voorsien het,
soos reën uit die hemel; manna vir brood.
Onvoorstelbaar, koring van die hemel;
daaglikse brood, sonder menslike arbeid.

Pragtig beskryf Asaf wat U gee, Here;
brood van engele wat mense kan eet,
padkos vir die woestynreis.
U laat vleis losbars uit die hemel,
Oorvloedig, soos sand van die oseane.

Here, U dink aan alles en gee oorvloedig.
U sorg dag vir dag ook vir ons.

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *