TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Elfde week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 10 Augustus 2024
JOHANNES 6:24-35
Die tweede week van ons fokus op Johannes 6, in navolging van die Revised Common Lectionary vir Koninkrykstyd 11. Ons Skrifdeel sluit aan by Jesus se vermeerdering van brood en visse toe Hy die skare gevoed het (Jesus se vierde teken in die Johannesevangelie). Die volgende dag, nadat Jesus die skare gevoed het, raak die skare bewus Jesus en sy dissipels is reeds weg. Hulle besluit om Kapernaum toe te vaar op soek na Jesus. Toe die mense Jesus oorkant die see aantref, vra hulle wanneer Hy daar aangekom het (vers 25). Hulle het geweet Jesus het nie saam met sy dissipels in die boot vertrek nie.
Jesus se reaksie op hulle vraag is egter nie direk gerig op wat hulle wou weet nie. Hy vestig die aandag op hul motivering om Hom te soek. In plaas daarvan om te sê wanneer Hy oorkant die see aangekom het, verwyt Jesus die mense omdat hulle met verkeerde motiewe agter Hom aankom. Volgens Jesus gaan dit nie vir hulle oor die tekens wat Hy doen as aanduiding van wie Hy is nie, maar eerder oor wat hulle by Hom kan kry. Hulle volg Jesus sodat Hy vir hulle kos moet gee (vers 26). Sy tekens het hulle nog nie oortuig Hý is die Seun van God nie.
In vers 27 sluit Jesus aan by die voeding tema, maar onderskei tussen voedsel wat vergaan en voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Jesus wil aandui die brood en visse het dieper betekenis. Hulle het ’n teken beleef wat méér inhou as die tydelike stil van hongerpyne. Die vermeerderde brood en visse be-teken voedsel met ewigheidswaarde. Meer nog, die ewige lewe voedsel kom deur die Seun van God, met die Vader se gesag. Die voeding wonder getuig van wat God doen. Dit het juis Jesus se identiteit ge-teken; wie Hý is. Hulle kon nie die teken lees en God se voorsienende sorg verstaan nie.
Jesus se woorde is nie vir die mense deursigtig nie. In vers 28 antwoord hulle op Jesus se verwysing na die twee soorte voedsel en die Seun van die Mens as Bron van die ewige-lewe-voedsel. Hulle vra oor werke wat God se wil wegdra. Jesus se antwoord (vers 29) verbind nou die temas van werk, geloof en sy verwysing na die Seun van die Mens in vers 27. God se wil, die werk waartoe hulle geroep word, is om te glo in die Een wat God gestuur het. Hulle moet reageer op wat die teken van die brood en visse vir hulle gewys het: Jesus is dié Een wat God gestuur het.
Steeds is Jesus se verduideliking nie helder genoeg nie. Nou moet ons ook kennis neem van Johannes se besondere vertel tegniek. Hy skep as’t ware misverstand by die karakters in sy verhaal, sodat Jesus nog ’n keer vanuit ‘n ander hoek kan verduidlik. Hier soek hulle ’n teken om te kan glo. Jesus moet nóg iets doen (vers 30), verwag hulle, soos wat hul voorouers beleef het in die woestyn (vers 31; sien Eks 16). Hulle soek brood uit die hemel en sien nie die Een in hul midde wat uit die hemel kom nie.
Jesus neem sy gehoor nog ’n keer aan die hand om hulle nader te bring aan insig oor en geloof in Hom. Hy korrigeer die moontlikheid dat hulle mag dink dit is Moses wat die voorouers gevoed het. Onthou hul woorde in vers 14 oor die Profeet wat na die wêreld sou kom; een soos Moses. Nee, sê Jesus, die ware brood uit die hemel is ’n gawe van my Vader. Dit is ’n Persoon wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee (voedsel tot die ewige lewe). Dit is Ek, sê Jesus: “Ek is die brood van die lewe.” (Eerste Ek is-uitspraak in die Johannesevangelie). Dit is waarvan die vermeerderde brood en vis ’n teken is. Jesus is die Seun van God en Hy laat God se koninkryk tussen die mense kom!
Omhels Jesus se belofte: Wie na Jesus toe kom se honger word vir ewig gestil. Wie in Jesus glo, sal nooit weer dors word nie. Wat kom soek jy by Jesus? Wat verkondig jy aan die mense in jou bediening?