Die Here gaan saam as jy vir mense vlug

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 12 AUGUSTUS 2024
RCL JAAR B – TWAALFDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

Gebed na aanleiding van Psalm 34:1-8 (saam 1 Kon 19:4-8 & 1 Sam 21:10-15 [lees 2020-vertaling])

Here, u kinders ken ook moeilike omstandighede.
Ek onthou tye van persoonlike ontwrigting,
asook tye van kollektiewe swaarkry;
saam met geloofsgenote én landsgenote.
In sulke tye wou én het ek/ons, tot U gebid.

Ek wonder oor Dawid se omstandighede, Here –
toe hy begeer het om tot U te bid,
en Psalm 34 vorm aangeneem het in sy hart.
Die inleiding sê Dawid het hom kranksinnig gehou,
en Abimeleg het hom weggejaag.

Here, watter mens speel kranksinnig vir oorlewing?
Wanneer is jy so desperaat dat malheid uitkoms bied?
Dawid vlug na die koning van Gat, om van Saul weg te kom. (1 Sam 21:10-15)
En nou is Abimeleg, waar hy skuiling soek sy bedreiging.
Kranksinnigheid bied uitkoms; hy word weggejaag.

Here, die lewe laat ons dikwels desperaat bid.
Soms is dit mense wat ons jaag, soos vir Dawid.
Of Elia wat van koningin Isebel af wil wegkom,
oor weerwraak vir die dood van haar Baäl profete. (1 Kon 19:4-8)
Dan bid mens anders – benoud, dalk? Angstig?

Dawid bemoedig verdruktes vanuit sy eie nood, Here –
en getuig van sy ervaring as magtelose voortvlugtige,
toe hy na U geroep en U hom gehoor het.
U het hom uit sy benoudhede (meervoud) verlos.
Verdruktes kán U vertrou; U beskaam hulle/ons nie.

Here, soos u engel vir Elia met kos en water gevoed het,
getuig Dawid bied die Engel van die Here beskerming.
U trek ’n laer rondom hulle wat vir U ontsag het.
U red die verdrukte en die magtelose.
Ons weet Dawid se getuienis is waar.

Nou val ons met Dawid se dankgebed in, Here.
U skep ’n nuwe wêreld, leefruimte om U te dien.
Ek/ons wil die Here die hele tyd prys.
In die Here sal ek roem;
Verdruktes sal dit hoor en hulle verheug.

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *