TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Twaalfde week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 16 Augustus 2024
JOHANNES 6:35, 41-51
Ons staan vir ’n derde week stil by Johannes 6, soos die Revised Common Lectionary ons lei in Koninkrykstyd. Ons Skrifdeel sit Jesus se diskoers voort met die skare wat Hom volg nadat Hy die brood en visse vermeerder en die skare gevoed het. Vers 35 verwoord Jesus se eerste Ek-is uitspraak, in die Johannesevangelie se vertelling van Jesus se aardse lewe. Dié uitspraak word in vers 48 herhaal. Die Evangelis gaan voort met sy kenmerkende skryf tegniek waarin hy eienaardige (funny) dinge sê in metaforiese taal, soos: “brood van die lewe” en “brood uit die hemel”. Die Evangelis roep die Eksodus verhaal van die Ou Testament in herinnering om Jesus se diskoers en self-identifisering te begelei. In vers 49 verwys hy nogeens na die manna wat sy gehoor se voorouers in die woestyn geëet het.
In ons Skrifdeel kom daar ’n draaipunt in die vertelling as Johannes die deel van die skare met wie Jesus hier in gesprek is, identifiseer as “die Jode”. In die Johannesevangelie word dié uitdrukking gebruik om Jesus se grootste opponente (vyande) te beskryf. Dit dui ook op die omstandighede van Johannes en ander Christen lede van die samelewing, wat deur “die Jode” uit die sinagoge geban is. Die skrywer gee vir ons as lesers ’n lens om die omstandighede van Jesus se tyd te bekyk.
Ons Skrifdeel begin met vers 35 in aansluiting by die diskoers oor “die brood van die lewe”. Dit slaan ook die brug na vers 41-51, waar “die Jode” mor omdat Jesus sê Hy is die brood wat uit die hemel neergedaal het. Dit gaan oor Jesus se identiteit (wie Hy is) en hul oordeel dat hulle weet wie Jesus is. Hulle ken sy vader en moeder en weet waar hy groot geword het. Sy ‘funny’ uitspraak dat Hy uit die hemel neergedaal het, is te vergesog. Weereens, Johannes se skryf tegniek. Hy skep misverstand by Jesus se gespreksgenote, wat die geleentheid open vir Jesus om sy uitsprake te verhelder.
In vers 43 vermaan Jesus “die Jode” oor hul onderlinge gemor en korrigeer hulle selfvoldane aanspraak dat hulle Hom ken. In sy teregwysing (vers 44-47) maak Jesus egter weer ’n uitspraak wat potensieel verwarrend kan wees. Jesus praat oor sy identiteit, nie in terme van sy aardse ouers (Josef en Maria) nie, maar in terme van God; die Vader wat Hom na die aarde gestuur het. Dit is meteens duidelik dat hierdie nuwe kategorie van ouerskap, groter verwarring by “die Jode” sou skep. Jesus gebruik baie woorde en verduideliking, om sy boodskap te verklaar. Helaas, sy uitsprake val vreemd op.
Jesus sê naamlik vir “die Jode” dat hulle Hom alleen sal her-ken as die Vader self hulle oë vir sy identiteit open. Eers dan sal hulle na Jesus toe kom (vers 44-45). Jesus beklemtoon ook dat niemand die Vader gesien het nie, behalwe die een wat van God af kom (vers 46). In vers 51 verbind Jesus die uitspraak oor die een wat van God kom, met Homself, as Hy sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het.” Die sleutel wat by “die Jode” ontbreek, is die kwessie van geloof. Die uitnodiging is om te glo dat Jesus van die Vader af kom. En wie dit glo, ontvang ’n andersoortige kategorie brood as wat die vaders in die woestyn ontvang het, toe God aan hulle manna voorsien het.
Teen die historiese agtergrond van die Eksodus, maak Jesus “die Jode” hier bewus van ’n nuwe uittog (eksodus), met radikale gevolge. Die nuwe uittog gaan óók gepaard met brood uit die hemel, maar dan as die Persoon wat deur God gestuur is. Die brood uit die hemel van die nuwe uittog bied ook radikaal ander uitkomste. Wie die manna in die woestyn geëet het, sou uiteindelik tog sterf. Wie egter die brood uit die hemel eet, sal vir ewig lewe.
Wat nodig is vir Jesus se morrende gespreksgenote, is om te glo Hý is die brood wat uit die hemel neergedaal het. Hoe kan ons hierdie vreemde boodskap verstaan, as God dit nie vir ons gee nie?