Beproef die Here en ervaar dat Hy goed is

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 19 AUGUSTUS 2024
RCL JAAR B – DERTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

Gebed na aanleiding van Psalm 34:9-15 (lees 2020-vertaling)

Here, u goedheid staan onwankelbaar vas.
Dawid het u verlossing in persoon ervaar.
So getuig hy teenoor verdruktes.
Hy nooi ons om u te beproef;
te waag om by U te skuil.

Ons het gehoor hoe Dawid getuig, Here.
U het hom uit vele benoudhede verlos,
hom nuwe lewe geskenk, ’n toekoms.
Hy hét by U geskuil en weet: U is goed.
Daarvan getuig Dawid se ontsag vir U.

Here, ons is dieselfde mense van wie Dawid hier praat;
magteloses en verdruktes wat na U roep om hulp.
In tye van nood wil ons by U skuil.
En U het ook vir ons uitkoms gegee.
Ons wil U dien, Here, want U is goed!

Die leefwyse van verlostes wat U soek, Here –
verg toewyding aan en ontsag vir U.
Dit kom nie vanselfsprekend nie.
Dawid nooi sy geloofsgenote én vir ons:
kom, kinders, luister na my, ek sal julle leer.

Here, U gee wat U belowe en vra ons oorgawe.
U vra ons toewyding aan en gesag vir U.
U voorsien in alles wat vir ons goed is.
Ons ly nie honger soos vraatsugtige leeus nie.
Ons ly geen gebrek nie; U is alles wat goed is.

Here, U gee riglyne vir ’n mens wat die goeie begeer:
weerhou jou tong van kwaad, jou lippe van bedrog;
vermy die kwaad, doen die goeie;
soek vrede, jaag dit na.
Ja, soek die Here!

Here, U is goed!
Ons wil U die hele tyd prys.
Ons kom skuil by U.

Amen