TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Dertiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 23 Augustus 2024
JOHANNES 6:51-58
Ons gaan voort met ons oordenking van Johannes 6 saam met die Revised Common Lectionary. Ons luister verder na Jesus se diskoers met “die Jode” (sy grootste oppponente in die Johannesevangelie) oor sy uitspraak dat Hy die brood van die lewe is (vers 48), na aanleiding van sy vermeerdering van brood en visse toe Hy die groot skare mense gevoed het. Ons onthou Johannes se kenmerkende skryf tegniek en gebruik van wat iemand noem, “funny language”. Hy skep misverstand by Jesus se gehoor, wat dan geleentheid bied aan Jesus om sy uitsprake te verhelder. In ons Skrifdeel sê Jesus: “En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld” (vers 51). Dié “funny language” lei tot stryery onder die Jode: “Hoe kan Hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” (vers 52)
Die verdeling van hoofstuk 6 in kleiner eenhede vir bespreking soos ons hier doen, kán die uitleg van die teks kompliseer. Ons moet deurentyd die hele argument vashou en nie onderdele in isolasie beoordeel nie. Die interpretasie van die geheel is egter ook nie minder ingewikkeld nie, aangesien die skrywer dieselfde gedagte en frases herhaal, maar telkens in nuwe verbande en kombinasies verduidelik. Wat wel nuut is in ons Skrifdeel dié week, is die tema van eet en drink. Jesus gaan verder met sy toepassing van die beeld van brood uit die hemel op Homself. Herkenning van Jesus as lewende brood uit die hemel (vers 51) en geloof dat Hy die brood van die lewe is (vers 48), is die gawe van God.
Jesus se ontwikkeling van sy argument deur uitbreiding van die brood metafoor na eet van sy liggaam en drink van sy bloed, belig ’n dieper dimensie in Jesus se boodskap. Die beeld van eet en drink lê klem op die intieme identifisering van gelowiges met die Seun van die Mens, asook gelowiges se vereniging met Christus. Die eet en drink-beeld behels inderdaad ’n element van geheimenis en mistiek. Die vraag van die Jode is nie vergesog nie: “Hoe kan Hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” Op materiële vlak is dit moeilik te verklaar. Op geloofsvlak beteken dit egter wel dat gelowiges dit waarvan ons bewus geword het en glo, naamlik dat Jesus die brood van die lewe is wat uit die hemel kom, omhels en ons eie maak. Dit dui op oorgawe aan Hom wie jy herken en in wie jy glo as die Seun van God.
Jesus wys hier klaarblyklik vooruit na sy dood aan die kruis waar sy liggaam gebreek en sy bloed gestort sal word. Hy verbind die eet van sy liggaam en drink van sy bloed met die ewige lewe en opstanding uit die dood: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan” (vers 54). Jesus se uitspraak het betrekking op die voordeel vir diegene wat die offer wat Hy aanbied ontvang en gebruik. As ware Messias, plaas Jesus sy eie lewe op die spel. Hy sal sy lewe werklik verloor, maar sy volgelinge sal voordeel put uit sy dood. Hulle sal as’t ware sy bloed drink. Hulle dors sal geles word deur sy dood en alles wat daarmee saam hang.
In vers 56-57 verduidelik Jesus sy uitspraak oor die eet van sy liggaam en drink van sy bloed. Hy beklemtoon die feit van die wedersydse inwoning (“bly in”) van Jesus en die gelowige (“hy in My” en “Ek in hom”) (vers 56). In vers 57 voeg Jesus weer temas bymekaar wat eintlik groter onduidelikheid veroorsaak. Hy sê egter: “so sal die een wat My eet, ook deur My leef.” Die vereniging en intieme verhouding met Jesus, is die kern van Johannes se verkondiging. Johannes keer in vers 58 terug na sy uitspraak in vers 49 oor die vergelyking tussen die manna in die woestyn (Eks 16) en Homself as die brood van die lewe: “Wie hierdie brood eet (Jesus), sal vir ewig leef” (vers 58).
Miskien is dit beter om nie elke uitspraak te verduidelik in logiese woorde nie. Miskien is dit die beste om die verse oor en oor te lees, totdat jy deur die “funny language” jou eenheid met Christus beleef.