GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 26 AUGUSTUS 2024
RCL JAAR B – VEERTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 34:16-23 (lees 2020-vertaling)
Here, wie is die regverdiges?
Volgens die psalmis is hulle vir U belangrik.
U sien hulle raak; u oë skerp op hulle gerig.
U hoor hulle; u ore fyn gestel vir hul geroep.
Ja, uit benoudhede red U die regverdiges.
Here, wat is daar in regverdiges –
dat U hulle red, hulle verlos, hulle beskerm?
Want U handel anders met kwaaddoeners en goddeloses:
U draai u gesig afkeurend na dié wat regverdiges haat;
U vewyder kwaaddoeners se gedagtenis van die aarde af.
Here, is die regverdiges ook diegene,
met gebroke harte en ’n verpletterde gees?
Want U behandel ook hulle met deernis:
U red hulle soos met die regverdiges;
U is na aan dié brose/geknakte mense.
Here, dit word vir ons al duideliker –
U verafsku die boosheid van kwaaddoeners.
Hulle bose optrede veroorsaak hulle dood.
U laat hulle boet vir die onreg wat hulle
die regverdiges aandoen.
Here, dankie vir wat U is en doen:
U red regverdiges uit hul benoudheid:
U is naby gebrokenes van hart, en
troos dié wat stukkend is van gees;
U bewaar die regverdiges se bene.
Here, saam met die psalmis getuig ons:
U red die lewens van u diensknegte;
Ons kán by U skuil en sal nie boet nie;
U oë sien die nood van die regverdige;
U ore hoor óns hulpgeroep.
Ek wil die Here die hele tyd prys –
want Hy is goed.
Amen