TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Veertiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 30 Augustus 2024
JOHANNES 6:56-69
Ons laaste week van die reeks Johannes 6 oordenkings in Koninkrykstyd. Ons het vir drie weke nagedink oor Jesus se gesprek met die skare wat Hom gesoek het na Hy hulle met brood en vis gevoed het (vers 9-13). Hulle het die teken gesien wat Jesus gedoen het en oor sy identiteit gegis (vers 14). Die mense het Jesus die volgende dag opgesoek. Hy het hulle aangespreek omdat hulle nie die teken reg verstaan het as heenwysing na Hom as die Seun van die Mens nie. Hulle verwagting was dat Jesus hulle weer met brood sou voed (vers 26) en het nog ’n teken gevra sodat hulle kan sien en glo (vers 30); soos die manna vir hul voorouers in die woestyn (vers 31). Jesus se antwoord het die tema van die diskoers vir die res van die hoofstuk gestel, naamlik die ware brood wat die Vader gee (vers 32).
Ons het gesien Johannes se skryf tegniek wek misverstand by Jesus se gehoor en open geleentheid dat Jesus sy aanvanklike uitspraak kan verhelder en gespreksgenote dieper die diskoers intrek. Ons het ook gesien Johannes noem Jesus se gespreksgenote “die Jode” (verse 41, 52). Hulle mor en stry onderling oor Jesus se uitsprake. Ons het verder gesien Jesus se gespreksgenote vind sy uitsprake vreemd. Verklaarders noem dit “funny language” (“striking claims and extraordinary language”), wat die gespreksgenote ontstig. In dié laaste deel van Jesus se diskoers oor die ‘brood wat die Vader gee’, verskuif die gesprek nou weg van ‘die Jode’ af na Jesus se dissipels toe (vers 60), ook na ons toe.
In vers 60 reageer die dissipels ontsteld op iets wat Jesus gesê het. Hulle mor onderling dat Jesus se woorde te erg is om selfs net na te luister, maar Hy is bewus van hul onsteltenis. Hy verwoord hul emosie as aanstoot (vers 61). Die “striking claim and extraordinary language” wat aanleiding gee tot die dissipels se aanstoot, is Jesus se woorde in vers 56: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom,” asook: “…so sal die een wat My eet, ook deur My leef” (vers 57). Weereens Johannes se patroon; Jesus reageer op sy gespreksgenote se ontsteltenis met verdere uitsprake. Die tweede rondte uitsprake wek selfs méér ontsteltenis, as Jesus praat van die opvaar van die Seun van die Mens (vers 62), asook van die Gees wat lewend maak in teenstelling met die vlees wat van geen nut is nie (vers 63). Jesus gaan nóg verder en sê sommige van hulle glo nie (vers 64); terug na die geloof-tema (verse 29, 30, 35, 36, 47). Jesus herhaal ook dat die Vader dit aan mense gee om na Hom toe te kom (vers 65; vgl. verse 29, 32, 33, 37, 39, 44, 45). Daarop kies sommige dissipels!
Jesus se “striking claims and extraordinary language” raak sy volgelinge diep, sodat “baie van sy dissipels teruggedraai het en nie meer saam met Hom rondgegaan het nie” (vers 66). Toe Jesus die reaksie van dié volgelinge sien en die gevolg van die keuse wat hulle gemaak het, wou Hy ook van die twaalf wat sy binnekring gevorm het, weet wat hulle keuse is. Watter senuwee het sy skerp uitsprake en buitengewone taalgebruik in húlle binneste raak geboor? “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” (vers 66). Op dié uitdagende vraag tree Petrus na vore om as segspersoon van die twaalf hul keuse te verwoord as die geloof waarvan Jesus deurentyd gepraat het: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. En ons glo en weet dat U die Heilige van God is” (vers 68-69). Die twaalf herken Jesus as die brood wat die Vader uit die hemel gegee het. Hulle glo Hý is die Seun van die Mens.
Navolging van Jesus vra keuses op grond van geloof. Jesus stuur niemand weg volgens Johannes se vertelling nie. Die mense besluit op grond van Jesus se “claims and language”. Ons Skrifdeel sluit met ’n laaste waarskuwende uitspraak van Jesus, as Hy vooruitwys na sy dood en dat daar selfs onder hulle één is (vers 70) wat nie sy liggaam sal eet en sy bloed sal drink nie, maar: “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef” (vers 57).