GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 2 SEPTEMBER 2024
RCL JAAR B – VYFTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 45:1-10 (lees 2020-vertaling)
Here, die Koragiete sing ’n liefdeslied aan ’n koning.
Wat moes ’n koning (dié spesifieke een) doen –
om die liefde van ’n onderdaan(e) te verdien?
Hoe moet ons vandag vir ons leiers bid?
In die konteks van ons kontemporêre leefwêreld,
met mag en eie belang die dryfkrag vir leierskap,
is ons geneig tot kritiek en beledigende taal,
teen leiers se openbare optrede en hul beleid.
Here, die psalmis verras ons met mooi woorde
van ’n liefdeslied in belang van ’n koning.
Die onderdaan se ontroering in die hart
en digterlike taal van waardering,
is soos lewegewende asem.
Here, ek wonder oor die koning in dié lied.
Was dit ’n werklike mens van vlees en bloed?
Of dalk die ideaal beeld in die bidder se gedagte?
Miskien was dit selfs vir U wat die Koragiete wou eer.
Hoe ookal, die mooi taal en sagte ontroering tref my hart.
Die Koragiete se liefdeslied roer my, Here.
Sit my aan die dink oor my eie gesindheid,
waarmee ek vir leiers en staatshoofde bid.
Verwag U nie van ons empatiese begrip,
vir dié in verantwoordelike plekke nie?
As ons glo U roep mense tot leierskap, Here –
behoort ons tog méér te maak van u salwing;
met olie en vreugde vir gemeenskappe.
Mag gemeenskappe ruik na geregtigheid,
en u leiers geklee wees teen goddeloosheid.
Here, gee ons mooi woorde vir u gesalfdes.
Ontroer ons harte vir hul opdragte.
Gee ons begrip vir hul kinders.
En beskerm hul huwelike.
U, Here, het geregtigheid lief.
Amen