Julle versaak die gebod van God

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Vyftiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 6 September 2024

MARKUS 7:1-23

Na ’n ompad van vyf weke met Johannes 6, is ons weer op reis met Markus (Evangelie vir Jaar B van RCL). In die negende week van Koninkrykstyd het ons vier weke se besinning oor Markus 6 afgesluit met verse 30-34 en 53-56. Die tema vir oordenking by daardie geleentheid was mense se intense honger na Jesus. Die reis daarna met Johannes 6, het aangelsuit by dié honger na Jesus, na aanleiding van sy voedingswonder en die diskoers daarna oor Jesus as die brood wat uit die hemel kom. Ons Skrifdeel vandag (Mark 7) handel weer oor brood. Die konteks is sommige van Jesus se dissipels wat brood eet met ongewaste (onrein) hande. Dit ontlok kritiek van die Fariseërs en skrifkenners.

Die twisgesprek tussen Jesus en Joodse leiers wat Markus hier beskryf, handel oor ’n aspek van die Joodse lewe wat nie vir ons bekend is nie. Die uitdaging wat Markus 7 aan ons as moderne lesers stel, is dat ons nié die punt van die diskoers kan bepaal indien ons nie binne die Joodse wêreld leef nie. Daarom verduidelik Markus aan sy eerste lesers, wat moontlik nie-Jode was nie, iets oor die rituele wassing van hande, potte ens. (vers 3-4). Die debat in ons Skrifdeel handel oor die interpretasie en gebruike van die Judaisme, deur Jesus en sy volgelinge. Dit gaan oor ’n komplekse en ontwikkelde sisteem van voorskrifte vir reinheid. Dit is nie oppervlakkige reëls nie, maar ’n gevestigde gedragskode wat die identiteit van Joodsheid verteenwoordig. Daardeur is Jode van ander onderskei. Dit gaan in dié debat oor wesenlike dinge, aan die hart van God se koninkryk.

Die Fariseërs en skrifkenners vra oor reinheid (vers 5), maar Jesus se antwoord lê klem op hul neiging om menslike tradisies te gehoorsaam, eerder as God se woorde. Die debat is oor twee maniere van verstaan. Wat beteken dit om ’n goeie Jood te wees in die eerste eeu nC? Dit behels die volle sosiale en godsdienstige lewe; leerstellings, etiek en politieke agendas. Jesus se reaksie op die kritiek van die Fariseërs en skrifkenners teen die optrede van Jesus se dissipels, belig dié twee betekenisse. Die Joodse leiers onderrig in werklikheid slegs menslike gebruike as fundamentele wette. Die perspektief wat Jesus beklemtoon is egter God se geopenbaarde wil: “Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense. […] Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf” (vers 8-9). Jesus wys dus op ’n diep teenstrydigheid in hul lewe: “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af.” (vers 6)

Jesus lê sy v inger op die dieptepunt van die Joodse lewensoriëntasie. Hy ontmasker die vertrekpunt van waaruit die Fariseërs en skrifkenners die Joodse volk onderrig vir lewe in gemeenskap en in gehoorsaamheid aan God. Die strydpunt in Markus 7 is ook vir óns relevant, al lyk ons gemeenskappe anders as destyds en al verskil ons gedragskodes van dié van die Jode. Die vraag waarmee Jesus die Fariseërs en skrifkenners gekonfronteer het, moet ons óók beantwoord en verdiskonteer, naamlik: Wie praat vandag namens God in ons samelewing? Ons uitdaging is om te onderskei wie se model aan ons ’n lewenswyse voorhou wat aan God eer betoon, Hy wat deur die Skrifte met ons praat. Die Fariseërs het ’n sisteem ontwikkel wat beide godsdiens en politieke lewe omsluit het. Hulle voorskrifte moes die Joodse identiteit beskerm, maar volgens Jesus was hulle harte ver van God af.

In vers 15 vertel Jesus ’n gelykenis om aan te dui wat die mens rein of onrein maak. Daarmee beantwoord Hy die Fariseërs en skrifkenners se vraag oor reinheid en ongewaste hande. Na aanleiding van dié gelykenis vra die dissipels vir Jesus na die betekenis van sy onderrig. Jesus is verbaas oor hulle onbegrip en dat hulle ook nog nie verstaan waar die kern van God se wil in mense setel nie. Jesus daag sy gespreksgenote (Fariseërs en skrifkenners, asook dissipels) uit om oor hul geloof en lewe te besin, in die lig van die koninkryk van God wat op hande is (Mark 1:15). Is Jesus se woorde in hul harte?