Om die Here te vertrou

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 9 SEPTEMBER 2024
RCL JAAR B – SESTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

Gebed na aanleiding van Psalm 125 (lees 2020-vertaling)

Here, U nooi ons uit om op U te vertrou –
met die belofte van u ewige omhelsing.
Daarom sing pelgrims ’n vertrouenslied,
op pad na die plek van aanbidding,
om U te ontmoet.

Here, iets van die pelgrimsgeloof en hoop,
resoneer in my, as hul lied van vertroue
my behoefte aan sekerheid bevestig.
Soos die berg Sion nie wankel nie,
staan mense vas wat U vertrou.

Die pegrimslied het twee fokusse, Here.
Dit sing van die volk wat op U vertrou,
én die plek waar hulle U saam aanbid.
Beide volk én stad sien die ewigheid,
terwyl u arms u pelgrimsvolk omvou.

Here, u aanbidders se vertrouenslied,
op pad na Jerusalem om U te dien,
het ’n harde lewenskonteks.
Dit beproef hul vertroue in U;
’n goddelose heerser ontwrig hul lewe.

In die hitte van hul bestaanstryd, Here,
herinner die pelgrims mekaar: U is regverdig.
Hulle bely: regverdiges vertrou op die Here.
Hulle verseker mekaar: God sal reg handhaaf.
Hul vermaan mekaar: moenie onreg doen nie.

Nou bid ons met vertroue tot U, Here –
om u arms óók in ons omstandighede,
om ons te vou, aan ons goed te doen.
Mag ons opreg van hart wees,
en nie ons hande na onreg uitsteek.

Here, gee ons vrede.
Ons wil U vertrou.

Amen