Die hondjies onder die tafel eet krummels van kinders

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sestiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 13 September 2024

MARKUS 7:24-37

Ons het in Markus 7:1-23 gelees van Jesus se konfrontasie met die Fariseërs en skrifkenners oor die Joodse voorskrifte vir reinheid. Jesus se dissipels het mos brood geëet sonder om hul hande te was. Dit het die Fariseërs en skrifkenners ontstel. Uiteindelik moes Jesus sy dissipels aanspreek omdat hulle óók nie verstaan het wat ’n mens rein of onrein maak nie. Nou verskuif die toneel in Markus se vertelling. Jesus beweeg ruimtelik oor Joodse geografiese grense na ’n gebied waar Hy blootgestel word aan heidene, volgens die Judaisme se komplekse sisteem van voorskrifte, onrein mense. In ons Skrifdeel nader twee sogenaamde onrein mense vir Jesus in hul nood. Jesus help hulle!

Die eerste ontmoeting is tussen Jesus en ’n Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms (vers 24-30). Jesus is in die gebied van Tirus, buite Joodse grense. ’n Nie-Joodse vrou het van sy teenwoordigheid gehoor en kom lê haar nood voor Jesus. Sy nader Hom oor ’n onrein aangeleentheid. Haar dogtertjie het ’n onrein gees. Die naamlose moeder vra Jesus om die demoon uit haar dogter uit te dryf. Jesus reageer op die versoek met ’n bekende Joodse spreuk. Dié spreuk beklemtoon Jesus se eerste roeping, naamlik om die koninkryk van God aan die Jode te verkondig: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.”

Die Griekse vrou verstaan Jesus se kode taal. Sy weet die Jode sien hulself as die kinders in die spreuk, met die hondjies simbool van die heidene (onreines). Sy weet klaarblyklik óók, wie Jesus is en dat sy roeping nie beperk is tot die Jode nie. Sy sien die geleentheid om Jesus te herinner dat die oorskiet (krummels van die evangelie) wat die Jode (kinders) nie gebruik nie (nie wil aanvaar nie), genoeg is vir haar verlossing as heiden. Die moeder se pleidooi laat Jesus klaarblyklik van plan verander. Jesus sien haar geloof. Sy herken Hom as Seun van God. Sy vertrou Jesus om die demoon uit te dryf onder God se heerskappy (Die ophande koninkryk – Mark 1:15). Die vrou se uiterlike onreinheid (etnisiteit) diskwalifiseer haar nie om in God se koninkryk te deel nie. Jesus se mag is oor ’n afstand effektief.

Die tweede ontmoeting is tussen Jesus en ’n naamlose iemand; doof met ’n spraakgebrek (vers 32). Dié ontmoeting is op ’n plek wat nie duidelik af te lei is uit vers 31 nie. Dit is ook nie duidelik of die man Jood of nie-Jood was nie. Sy gebrek (doof met spraakgebrek) het hom egter in terme van Joodse voorskrifte onrein gemaak. Die mense het die man na Jesus toe gebring en Jesus gesmeek om hom die hande op te lê. Sy sosiale onreinheid het die man moontlik verhinder om self na Jesus toe te gaan. Op aandrang van die mense neem Jesus hom eenkant toe, voer ’n ritueel uit, bid tot God en sê vir die man: “Effata!” (Gaan oop) (vers 34). Die wonderwerk wat volg demonstreer God se heerskappy (ophande koninkryk) en die man se totale bevryding om te deel in die lewe: “En dadelik is sy ore geopen, die band van sy tong losgemaak, en hy het normaal gepraat.” God se insluitende genade.

Vers 36-37 bevat twee belangrike gegewens. Eerstens beveel Jesus die mense om vir niemand te vertel nie; Markus se bekende literêre tegniek, die sogenaamde Jesus geheim. Eers met Jesus se opstanding sal sy identiteit vir almal bekend wees. Maar, die mense is verwonderd oor wat voor hul oë gebeur het. Hulle kon nie die wonderwerk vir hulself hou nie. Hulle moes vertel en hul woorde herinner aan die skeppingsverhaal (Gen 1), waar God telkens verklaar dit wat Hy geskep het is goed. Nou getuig die mense oor Jesus in dieselfde terme: “Hy het alles goed gedoen – selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat” (vers 37). Dié woorde herinner aan Jesaja 35:5-6 wat heenwys op Jesus. Die mense bevestig Jesus se identiteit, sonder dat hulle dalk die waarheid van hul getuienis besef.

So neem Jesus ons ook mee op sy reis oor grense heen na alle mense.