Weerhou my van vermetelheid

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 16 SEPTEMBER 2024
RCL JAAR B – SEWENTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

Gebed na aanleiding van Psalm 19 (lees 2020-vertaling)

Here, ek dink vandag oor vermetelheid –
hoe dit ’n mens se karakter vergiftig.
Daarom sluit ek by die psalmis aan
as hy/sy bid dat dié ingesteldheid,
nie sy/haar lewe beheers nie.

Die bidder getuig van U oorvloedige seën –
waar iemand die gees van vermetelheid
deur u genade oorwin, Here;
onskuldig voor u aangesig,
vry van oortredings.

Here, wys my elke vonkie eiewaan –
sodat die boom van vermetelheid
geen groeikans het
en ek vrymoedig mag bid dat U,
my woorde en bepeinsinge aanvaar.

Here, ’n gees van vermetelheid en eiewaan,
dryf mense se sug na mag en erkenning.
Dit verblind mens vir jou relatiewe plek;
in die hemelruim onder u hemelkoepel,
doof vir boodskappe uit u dag-nag ritme.

Dankie vir u bronne van wysheid en kennis, Here.
Dit herinner ons aan U, ons Skepper,
en sit my, vermetele stofspikkel, op my plek…
Onverstoord die groot ligte se gang aan die hemel,
u boodskappers, teen wie vermeteles armdruk.

Here, gee my fyn sintuie vir u handewerk.
Laat my verstaan waar ek hoort in alles.
Wek in my die begeerte om U alleen te dien.
Skep in my ’n nederige en leerbare gees,
om in alles u Skepperhand waar te neem.

Here, en as ek dalk u skeppingswerke miskyk –
herinner my asseblief aan u volmaakte wet,
u betroubare bepalings en opdragte wat reg is.
Dít gee nuwe lewenskrag, wysheid aan onkundiges.
U gebod is suiwer en ontmasker vermetelheid.

Here, ek begeer ontsag vir U alleen;
om vermetelheid af te lê.

Amen