Die seun van die mens moet baie ly

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sewentiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 20 September 2024

MARKUS 8:22-38

Markus se vertelling oor Jesus se bediening verskuif na ’n volgende geografiese punt. Jesus en sy dissipels vertrek vanaf Betsaida (vers 22) na die dorpe van Caesarea-Filippie (vers 27), nadat Jesus ’n blinde man genees het (vers 22-26). Die afstand tussen Betsaida en Caesarea-Filippie is groot en sou reisigers ’n aantal ure neem om te voet af te lê. Caesarea-Filippie is ver noord van Betsaida aan die voet van Hermonberg, by die oorsprong van die Jordaanrivier. Die ligging van dié geografiese punt is strategies belangrik vir Markus se vertelling. Van ’n ietwat hoër punt af kan reisigers terugkyk op hul pad en die hele Jordaanvallei sien, asook verder aan in die vallei op tot waar die pad bergop gaan.

Met die ruimtelike verskuiwing bring Markus sy lesers by ’n draaipunt in sy verhaal. Geografies is die punt by Hermonberg en die Jordaanrivier ’n uitkykpunt oor die landskap, asook ruspunt om asem te skep. Vir Markus se vertelling is die geografiese rusplek ’n ruimte vir besinning oor die pad wat Jesus gekom het en waarheen Hy gaan. Verder bergop in die vallei lê die hoogte waar Jesus gekruisig gaan word. Op dié draaipunt begin Jesus sy dissipels leer dat die weg van die Seun van die Mens lyding, verwerping en sterwe behels (vers 31). Markus verpak sy vertelling in sy bekende toebroodjie tegniek; twee tonele oor genesing van blinde persone (8:22-26; 10:46-52). Tussen die verhale oor genesing van blindes, ontbloot Markus die dissipels se onbegrip oor wie Jesus is en waarvoor Hy hulle roep. Onthou die tema van blindheid. Ons sal die volgende paar weke aandag gee aan die groter teks eenheid.

Op pad na die dorpe van Caesarea-Filippi vra Jesus sy dissipels wat die mense se mening is oor wie Jesus is (vers 27). Hulle gee verskillende verklarings: Johannes die Doper, Elia of een van die profete (vers 28). Dit skep geleentheid vir Jesus om sy dissipels persoonlik te toets oor hul verstaan van wie Jesus is: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Petrus antwoord namens die dissipels: “U is die Christus” (vers 29). Jesus reageer met ’n opdrag om niemand van Hom te vertel nie. Waarom sou Jesus dit doen? Op dié punt in die verhaal is die vraag nog of Petrus en die dissipels se identifisering van Jesus as Christus (Messias, Gesalfde), bedoel Hy is God se Messias vir die wêreld, of is dit eerder die polities gevaarlike en teologies riskante uitspraak dat Jesus die ware koning van Israel is, erfgenaam van die Dawidiese troon, Israel se bevryder van die Romeinse imperiale juk? Sien die dissipels werklik wie Jesus is?

Jesus begin onmiddellik met die volgende fase van sy onderrig program oor die koninkryk van God wat op hande is (vers 31). Wat Jesus sê oor die Seun van die Mens wat baie moet ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word, is vir Petrus onaanvaarbaar. Dit stryk ook nie met sy verwagting van die Christus (Messias) wat Israel van politieke onderdrukking en vernedering sal bevry nie. Wanneer Petrus vir Jesus eenkant toe neem en berispe oor wat Jesus hier leer oor die koninkryk van God, word sy verstaan van wie Jesus is en wat sy belydenis in vers 29 ten diepste beteken, ontmasker. Jesus berispe Petrus in die sterkste moontlike taal oor sy blindheid vir die dinge van God: “Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense” (vers 33).

Op dié draaipunt in Markus se vertelling oor die aardse lewe van Jesus Christus, kondig Jesus vir die eerste keer aan dat Hy deur lyding heen God se koninkryk op aarde kom vestig. Jesus skut aan Petrus en die dissipels se beeld en verwagting van die Messias. Hier by die uitkykpunt oor die hele roete waar Jesus se weg na Jerusalem en die kruis sigbaar is, begin Jesus die aard van dissipelskap en navolging van Hom uitlê. Jesus daag hulle uit om na te dink oor kruisdra en self-verloëning. Hy begin hulle leer oor die lewe wat Hy skenk en verteenwoordig. Hy beskryf ’n omgekeerde orde: “wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red” (vers 35). Markus trek vir jou en vir my in om saam te leer wat die koninkryk van God behels en wat dissipelskap van ons vra.