GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 23 SEPTEMBER 2024
RCL JAAR B – AGTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 1 (lees 2020-vertaling)
Here, wat is ware geluk?
Kan ’n mens werklik gelukkig wees?
Die psalmis ken ‘die gelukkige mens’.
Nog ander Afrikaanse woorde is:
Salig, welgeluksalig, geseënd.
Wat is kenmerkend van geluk, Here?
Miskien ’n diep ervaring van vrede.
Dalk belewing van balans en gemak.
Harmonie met mens, natuur en God.
’n Onverstoorde gemoed.
Dalk is dit alles deel van die antwoord, Here.
Nie die een of die ander nie, maar ’n pakkie.
Die psalmis beskryf die toestand van geluk,
as ’n pad en gemeenskap van onderskeiding;
nié waar sondaars staan en spotters sit nie.
Here, dit klink my geluk lê in één verhouding;
kies die wet van die Here wat vreugde gee,
maal die inhoud daarvan in hart en denke –
soos kos wat jy eet en fyn kou vir insluk.
Ja, vul jou wese met kennis van God.
Here, as ek die psalmis reg verstaan –
is geluk die vrug van onderskeiding;
insig hê dat die goddelose weg,
tot niks kom – in die niet in waai.
Die regverdige pad, ’n vrugbare boom.
Dankie dat U my gekies het, Here.
U genade het my gebring by waters:
wat lewe gee en my geloof bly voed,
wat geloofsvrug in my laat ontkiem,
en my help onderskei wat reg is.
Ons dank U, Here, vir u sorg op ons pad.
U het dit alles uit genade in ons gewerk.
Laat my met genade aan godeloses dink;
hulle vertel wat geluk werklik inhou.
U kan hul boom ook verplant.
Here, ek het ware geluk in u gevind.
Amen