GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 30 SEPTEMBER 2024
RCL JAAR B – NEGENTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 124 (lees 2020-vertaling)
Here, die pelgrimsliedere in die Psalmboek –
spreek tot ons op ’n besondere manier.
Ouer Afrikaans ken die bedevaartslied,
van gelowiges op pad om U te aanbid;
harte en gedagtes op U ingestel.
Gelowiges se voorbereiding vir aanbidding, Here –
maak harte ontvanklik vir ontmoeting met U.
Dit stimuleer bewussyn en onderskeiding.
Vra gerigte herinnering en verantwoording.
Ons voorbereiding erken U as dié Skepper.
Here, ek hoor hoe die pelgrim in dié psalm –
sy/haar gedagtes orden om te motiveer,
waarom hy/sy wéér gaan om te aanbid.
Ek hoor hoe Dawid vir Israel onderrig,
om as gemeenskap voor U te kom.
Here, my toenadering tot U verdiep aansienlik –
as ek stop en onthou waar U teenwoordig was,
toe die lewe my ontwrigtend meegesleur het.
Op pad om U te ontmoet ervaar ek U reeds,
in die besef van hoe anders dinge kon wees.
Here, daar is bedreigings wat ons oorspoel,
mense wat dit nie goed met ons bedoel nie,
magte wat ons gevange wil neem en vernietig.
Ja, hoe anders kon dinge nie vir ons/vir my
uitgedraai het nie?
Ek kom U saam met u kinders aanbid, Here.
Ons het voorberei om U te ontmoet,
wetende dat U inderdaad daar was –
toe ons greep op die lewe gegly het,
ons die kake van die vyand ontglip het.
Ek weet/ons weet vandag onteenseglik –
ons hulp is in die Naam van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
Hoe U hulp lyk, Here, is onvoorspelbaar.
Maar dat U altyd help, dit is seker.
Daarom moet U geprys word.
Amen