TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Negentiende week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 4 Oktober 2024
MARKUS 9:38-50
Jesus en sy dissipels is in Kapernaum (vers 32) op pad na Jerusalem, waar Jesus uiteindelik gekruisig sou word, soos Hy by twee geleenthede aangekondig het (8:31; 9:31). Jesus leer sy dissipels Hy moet ly en sterf, én dat navolging aan hulle eise stel. Die dissipels is nog onkundig oor Jesus. Hulle hoor maar verstaan nie Jesus se leer oor die weg waarop Hy is nie. In ons Skrifdeel rapporteer Johannes ’n insident wat die dissipels klaarblyklik misverstaan en verkeerd hanteer het (vers 38). Weer gebruik Jesus die dissipels se misverstaan en gebrek aan insig as leer geleentheid oor sy koninkryksweg.
Johannes is verontwaardig oor iemand wat in Jesus se Naam demone uitdryf, maar nie deel is van hul groepie nie. Hierdie ‘iemand’ buite hul ‘in-groepie’ moes ophou doen waarmee hy besig was. Jesus reageer teregwysend: “Moet hom nie keer nie.” Jesus se motivering waarom die dissipels dié persoon moet laat begaan, herinner aan Petrus se misplaasde teregwysing van Jesus (8:32) en die dissipels se geredekawel oor wie die belangrikste is (9:34). Vir Petrus is Jesus se lydensaankondiging nie wat hy van Israel se messias verwag nie. Die dissipels het verwag Jesus sou aan hulle sterk posisies gee as Hy die Romeinse regeerders oorwin. In ons Skrifdeel eis hulle Jesus nou op vir hul klein eksklusiewe groep.
Jesus leer hulle ‘n alternatiewe weg (vgl.8:31; 9:31). Sy koninkrykslogika werk anders: “Iemand wat in my Naam ’n kragtige daad doen, kan nie daarna sleg van My praat nie” (vers 39). Jesus laat ruimte dat iemand buite sy intieme kring die boodskap van God se op-hande koninkryk gehoor het en verkondig. Vir Jesus is dit eenvoudig. Niemand kan iets in sy Naam doen en dan teenstrydig met sy Naam handel nie: “Want wie nie teen ons is nie, is vir ons” (vers 40). Jesus verduidelik sy standpunt met ’n praktiese voorbeeld (vers 41). Hy noem ’n fiktiewe geval waar iemand vir die dissipels ’n beker water in Jesus se Naam gee omdat hulle aan Christus behoort. Hy lê klem op hul verbondenheid aan Hom. Jesus sluit nie uit nie, maar in. Daar is beloning vir iemand wat sy Naam só erken. Dié gesprek spreek tot ons as Jesus se dissipels. Laat óns ruimte vir ander gelowiges?
Vers 42-50 wek die indruk van ’n nuwe tema. Daar is egter deurlopende motiewe wat aansluit by die voorafgaande gedeelte, asook die res van die verhaal eenheid (8:22-10:52). Jesus noem in vers 42 “kleintjies wat in My glo”. Dit is sy dissipels. Hy verseker sy binnekring Hy sal hulle teen struikeling bewaar, maar waarsku in dieselfde asem om nie ander wat in Hom glo, te laat struikel nie. ‘Kleintjies’ herinner aan Jesus se uitsprake oor kindertjies (9:36-37; 10:13-16). Jesus sluit kindertjies in (9:37) en sien in kindertjies ’n gesindheid wat strook met die koninkryk. Daarom gebruik Jesus twee sterk metafore vir die aard van dissipelskap en navolging. Wie ’n volgeling van Jesus in die geloof laat struikel, moet eerder met ’n maalsteen om die nek in die see gewerp word. So belangrik is elkeen wat in Jesus se Naam optree vir Hom.
Die tweede sterk metafoor beklemtoon die radikale aard van ’n keuse om Jesus te volg. Jesus se lydensweg is finaal en meesleurend. Dit vra inderdaad keuses wat selfs die belangrikste dinge in ons lewe (soos hande, voete, oë) ondergeskik stel. Daar is nie ’n middeweg nie. Onthou wat Jesus in Markus 8:34 vir sy dissipels geleer het: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” Jesus herhaal dié punt met die beeld van verlies aan liggaamsdele eerder as om die koninkryk van God te mis met ’n volledige liggaam. Dissipelskap beteken keuses, volle toewyding aan Christus en die diepe besef van die pad waarop Jesus gegaan het.
Sout en vuur is beelde vir reiniging en ware lewe. Volgelinge van Jesus word gekenmerk deur innerlike lewenskrag en onderlinge vrede met mekaar, selfs met hulle wat nie ons volg nie (vers 38).