GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 7 OKTOBER 2024
RCL JAAR B – TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 8 (lees 2020-vertaling)
Here, daar is iets waaroor ek dikwels peins.
Ek sien op meer plekke hoe ander mense,
ook wonder oor die aard van menswees.
Blykbaar is nie net filosowe en slim mense
begaan oor die waarde van die mens nie.
Dit is vir my veral verblydend, Here –
dat Dawid, gelowige man na u hart,
ook van dié vraag sin wou maak.
Dawid vra oor die brose mens,
wat in u oë belangrik is.
Wat is ’n mens dan, Here –
dat U aan hom dink,
’n mensekind dat U
aan hom aandag skenk?
Wat ek by die psalmis leer oor hoe
om dié vraag te benader, Here –
is dat hy u magtige Naam erken,
en skaamteloos verwonderd is
oor u grootse skepping.
Dié geloofsperspektief, Here –
werp helder nuwe lig op my soeke.
Dit vestig my menslike bestaan,
in my verhouding met U as Skepper
en my relatiewe plek in u skepping.
Here, wanneer ek as brose mens erken
dat ek is omdat U bestaan en skep,
vervaag my wat-is die-mens-vraag
en oorweldig die begeerte my om U
soos kinders en suigelinge te loof.
Here, ons Here,
hoe magtig is u Naam,
oor die hele aarde!
Help my en u gelowige kinders, Here –
om u buitengewone opdrag aan ons
en u onbeskryflike vertroue in ons
met verwondering te ontvang;
nederig afhanklik van U.
Amen