Om verskillende tekste te lees

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 11 Oktober 2024

MARKUS 10:1-16

Jesus en sy dissipels het uit Kapernaum (9:33) vertrek op pad na Jerusalem en het die gebied van Judea bereik (10:1). Die skares het na Jesus gestroom en Hy het hulle weer in die openbaar onderrig. Soos voorheen (vgl 9:33) benut Markus die beweging tussen openbare en privaat ruimtes om Jesus se interaksie met skares en met sy dissipels te beskryf. Markus se patroon is om deur Jesus se interaksies ’n tema aan te kondig waaroor verskil van mening bestaan. Jesus neem dan sy dissipels na ’n privaat ruimte (vers 10). Hy leer hulle die weg wat Hy gaan en die ontvangs van God se koninkryk (vers 15).

In Markus 10:2 noem die Fariseërs ’n etiese tema, naamlik of dit vir ’n man toelaatbaar is om van sy vrou te skei. Ons moet twee leidrade onthou as agtergrond vir dié interaksie. Eerstens die woord “toets” (vers 2), met die doel om Jesus uit te lok en Hom in onguns by die Herodiane te bring. Tweedens die geografiese ruimte (Judea oorkant die Jordaan – vers 1). In Markus se verteller raamwerk is dit Herodes Antipas se politieke domein. Die Fariseërs en Herodiane (politieke ondersteuners van Herodes Antipas) het saamgespan teen Jesus (Mark 3). Markus 6 verhaal die konfrontasie tussen Johannes die Doper en Herodes Antipas oor laasgenoemde se huwelik met Herodias. Herodes het Johannes laat doodmaak omdat Johannes vir Herodes gekritiseer het. Dieselfde lot kon Jesus tref.

Jesus reageer op die Fariseërs se vraag oor egskeiding en herinner hulle aan wat Moses in dié verband beveel het. Die Fariseërs beroep hulle op Deuteronomium 24, wat voorsiening maak vir ’n skeibrief deur die man aan die vrou. Jesus gee toe dit is wat Moses beveel het, maar voeg die kritiek by, naamlik dat Moses dié toegewing gemaak het vanweë die hardheid van hul harte. Hul harte was teen God gekeer. Die Fariseërs redeneer dus vanuit die sosiale konvensies van hul tyd. In vers 6 reageer Jesus op hul vertrekpunt en wys op die skeppingsverhaal (Gen 1 en 2). Vandaar die titel van ons meditasie. Jesus korrigeer die Fariseërs se praktyke vir egskeiding en herinner hulle aan God se skeppingsdoel. Hy ontmasker die Fariseërs se menslike vertrekpunt teenoor God se doel met die mens.

Soos in voorafgaande interaksies (8:32; 9:35; 9:39) verstaan die dissipels nie wat Jesus hier leer nie. By die huis (vers 10) verklaar Jesus aan sy dissipels wat Hy in die gesprek oor egskeiding bedoel het. Die punt is helder; om te skei kom neer op egbreuk, ongeag of die man van sy vrou skei of omgekeerd (vers 12). Dié uitspraak bring die geskiedenis van Johannes die Doper en Herodes Antipas weer ter sprake. Volgens Joodse wetgewing kon ’n vrou nie van haar man skei nie. In die geval van Herodes Antipas, het sy vrou Herodias egter van haar man geskei om met Herodes Antipas te trou. So het sy as vreemdeling die voorskrif van Deuteronomium 24 verontagsaam. Jesus beklemtoon verder dat God nie onderskei tussen man en vrou ten opsigte van gehoorsaamheid en toewyding aan God nie. Ons word óók uitgedaag om fyn te besin oor hoe ons die Skrifte gebruik in praktiese en eitiese sake.

Ons Skrifdeel sluit af (vers 13-16) met ’n tweede toneel oor kindertjies as leer voorbeeld (vgl 9:36-37). Hier spreek Jesus sy dissipels aan wat die kindertjies van Jesus af wil weghou (vers 13). Daaroor is Jesus verontwaardig. Sy reaksie herinner aan 9:42 waar Hy waarsku dat niemand die kindertjies (sy dissipels) moet laat struikel nie. Nou spreek Jesus sy dissipels aan en sê hulle moet nie die kindertjies verhinder om na Hom te kom en so die koninkryk van God te ontvang nie. Ja, hoe moeilik verstaan ons as gelowiges wat Jesus leer en demonstreer oor die koninkryk van God? “Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie” (vers 14).