TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Twee en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 25 Oktober 2024
MARKUS 10:35-45
Ons Skrifdeel vir oordenking (Mark 10:35-45) dek die laaste toneel van Markus se vertelling (8:22 tot 10:52) oor Jesus se Lydens-profesie, die dissipels se onbegrip oor die weg waarop Jesus is en sy onderrig oor dissipelskap. Jakobus en Johannes, seuns van Sebedeus, versoek Jesus “dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen” (vers 35). Dié interaksie vertoon die patroon van vorige ontmoetings tussen Jesus en mense uit die skares wat Hom gevolg het. In dié geval volg Jesus se onderrig aan sy dissipels oor wat dissipelskap behels, op sy derde aankondiging dat Hy moet ly (10:33), nadat Hy die twaalf opsy geneem het, weg van die skare af en die twee broers se onbegrip ontmasker het.
Jesus se woorde (vers 38) in reaksie op die broers se versoek, herinner aan vorige misverstande wat Jesus ontmasker het. Hiér sê Jesus vir die broers: “Julle besef nie wat julle vra nie.” Telkens wanneer Jesus in dié verhaal sy dissipels leer oor sy naderende dood en opstanding (8:31; 9:31; 10:33), vertel Markus hoe die dissipels nié verstaan waarvan Jesus praat nie. In Markus 8:32 berispe Petrus vir Jesus ná die eerste lydensaankondiging. In Markus 9:34 redekawel die dissipels onderling met mekaar oor wie van hulle die belangrikste is, ná Jesus se tweede lydensaankondiging. In ons Skrifdeel is dit twee broers wat spesiale posisies langs Jesus wil inneem wanneer Hy verheerlik word. Op pad na Jerusalem toe saam met Jesus, bly die twaalf sonder insig oor wat dit behels om Jesus te volg.
Die broers se versoek vir spesiale posisies langs Jesus, dui op hul verwagting van wat in Jerusalem gaan gebeur; dat Jesus ’n sterk leierskap posisie gaan inneem (heerlikheid). En wanneer Jesus dié posisie inneem, wil hulle erkenning hê omdat hulle Jesus gevolg het. Jesus se antwoord verwys na die beker, die doop (vers 38-39) en hulle vir wie die posisies voorberei is (vers 40). Dit is komplekse uitsprake. Die punt is wel dat Jesus se ‘heerlikheid’ iets anders inhou as waarvan die broers en die ander dissipels (vers 41) droom. Uit die drie lydensaankondiginge is dit duidelik dat Jesus op Jerusalem fokus as die plek waar Hy aan die kruis verhoog sal word en sal sterf. Markus 10:32 verwoord dié doelgerigtheid: “Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop.”
In hulle toekoms (en in ons hede) sal die dissipels in Jesus se dood en opstanding deel, deur die sakramente wat hulle sal herinner aan Jesus se dood en hulle (ons) inlywing in sy dood en opstanding. Die doop en die beker is nederige simbole (heilige tekens en seëls) van hoe Jesus se dissipels deel in sy heerlikheid. Die verwysing na hulle vir wie die posisies aan weerskante van Jesus voorberei is, kan eweneens vooruit wys op die kruis, na die twee persone wat saam met Jesus gekruisig sou word. Nogeens, Jesus se heerlikheid word deur die lyding aan die kruis gedefinieer. Moontlik kyk Jesus verby die kruis met dié uitspraak; na sy opstanding en hemelvaart aan God se regterhand. Binne die konteks, is die klem egter eerder op Jerusalem en dit wat Jesus driemaal aangekondig het dáár sal gebeur.
Dit was egter nié net die twee broers wat nie besef het wat hulle van Jesus vra nie. “Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes” (vers 41). Jesus interpreteer hul verontwaardiging as afguns, omdat die broers hulle voorgespring het en posisies beding het waarvoor hulle self in aanmerking wil kom. Dit het aan Jesus geleentheid gegee om ook vanuit dié situasie van onbegrip en misverstand verder onderrig te gee oor die kenmerk van dissipelskap en hoe Hy as Seun van die Mens (vers 45), daardie kenmerk voor hulle uitleef. Jesus het gekom om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie. Só moet die dissipels bereid wees om mekaar te dien, na Jesus se voorbeeld. In die koninkryk van God is diensbaarheid ’n waarde met gewig, nié belangrikheid of voorste posisies nie (vers 43-44; vgl. 9:35; 8:34-35). Jesus roep ons om dienend te lei. Dááraan het die wêreld van werk groot behoefte.