Die Here red die regverdiges

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 28 OKTOBER 2024
RCL JAAR B – DRIE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

Gebed na aanleiding van Psalm 34:1-9, 15-23 (lees 2020-vertaling)

Ek wil U die hele tyd prys, Here. In U sal ek roem.
Regverdiges, maak saam die Here se Naam groot.
Laat ons saam sy Naam verheerlik!

Here, die psalmis se oproep om U te dank –
spreek my op diep eksistensiële vlak aan.
Sy motiverende oproep resoneer met my.
Ek het al dikwels magteloos na U geroep,
en kán getuig: U het my verlos.

Uit my danklied oor u redding, Here –
móét ek nou getuig van wysheid
waarvoor U my oë geopen het.
Dit het geloof in my hart gewek,
’n nuwe leefwyse bekendgestel.

Here, wysheid om regverdig te lewe,
wéét die kwaad is vernietigend.
Dit moet vermy word.

Here, wysheid om regverdig te lewe,
wéét ook om die goeie te doen.
Wie U beproef, ervaar U is goed.
’n Lewenstrategie van goeddoen,
bring geluksaligheid.

Here, wysheid om regverdig te lewe,
wéét ook om net in U vrede te soek –
dit na te jaag as lewensbeginsel.
U lewensvervullende vrede,
nooi ons om by U te skuil.

Here, wysheid om regverdig te lewe,
wéét proefondervindelik, regverdiges is nié
gevrywaar van benoudheid of teenspoed nie.
Ook regverdiges beleef aardse teenspoed,
net soos kwaaddoeners.

Maar, Here, die perspektief van geloofswysheid,
omhels die belofte en versekering: U ag –
die hulpgeroep van u diensknegte
U red regverdiges uit benoudheid.
U verlos die gees wat verpletter is.

Amen