Staan op! Hy roep jou.

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Drie en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 1 November 2024

MARKUS 10:46-52

Ons oordenking reflekteer oor die laaste segment van die beslissende kern gedeelte van Markus se vertelling (8:22 tot 10:52). Dit fokus op die wesenlike kenmerke van dissipelskap. Jesus word deur sy dissipels en ’n aansienlike menigte gevolg (vers 46). Dit dui op weggenootskap en deelgenootskap as kenmerke van dissipelskap (vers 52) in dié verhaal segment. Geografies speel die toneel in Jerigo af, met Jesus op weg na Jerusalem waar sy drie-maal aangekondigde dood (8:31; 9:31; 10:33) sal afspeel. Jesus se doelgerigte reis na Jerusalem gee aan die verhaal ’n dringende toon.

Die genesing van die blinde man in Betsaida (8:22-26) moet saam met ons Skrifdeel gelees word as voorbeeld van Markus se literêre tegniek, wat as’t ware ’n omraming (toebroodjie) vorm vir Markus 8:27-10:45 waarin Jesus sy binnekring dissipels leer oor die weg waarop Hy is en wat dit beteken om Hom as dissipels te volg. Die twee verhale oor die genesing van blinde persone lewer kommentaar op die gedrag van die dissipels soos dit in die tussendeel beskryf word. Jesus probeer onverbiddelik om sy dissipels van hul geestelike blindheid te bevry. Die twee verhale beklemtoon Jesus se gesag oor blindheid, terwyl die genesing geleentheid bied vir Jesus se onderrig aan sy dissipels.

Jesus se interaksie met Bartimeus roep weer ’n vorige toneel op, naamlik die ontmoeting met die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes (10:35-45), wat Jesus versoek om aan hulle posisies van eer te gee in sy komende ryk (10:37). In beide vertellings vra Jesus dieselfde vraag aan sy gespreksgenote: “Wat wil julle/jy hê moet Ek vir julle/jou doen?” (10:36, 51). Die dissipels toon hul blinde onbegrip met hul versoek om eer, terwyl Bartimeus vra om genesing wat vir hom die toekoms ontsluit (10:51). Jesus kan nie aan die dissipels se versoek voldoen nie, maar wel aan Bartimeus s’n. Die dissipels spreek waarskynlik onwetend ’n drievoudige woord van verlossing (heil) oor Bartimeus uit wanneer hulle hom na Jesus toe roep: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou” (vers 49). Op Bartimeus se onmiddellike reaksie volg Jesus se magswoord dan: “Gaan! Jou geloof het jou gered.” (vers 52).

Geleerdes wys daarop dat Jesus se onderrig aan sy dissipels twee fases verteenwoordig. Die eerste fase is daarop gerig dat die dissipels insig moet hê in Jesus se identiteit as God se Messias (Gesalfde, Verlosser). Die tweede fase het betrekking op die herkenning van Jesus se sending, asook om die insig en herkenning met mekaar te verbind: Jesus is inderdaad as Messias deur God na die wêreld gestuur om te sterf vir die wêreld se onreg. Bartimeus se reaksie op sy genesing deur Jesus, is die voltrekking van die sogenaamde tweede fase, terwyl die dissipels in die voorafgaande interaksies nie by dié insig en identifisering kon uitkom nie. In Markus se verhaal speel onbelangrike mense telkens ’n rol om die verkeerde beskouing van geloof te ontmasker. In dié toneel is dit die blinde man op straat wat die belydenis uitroep: “Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” (verse 47, 48).

Terwyl Jakobus en Johannes die Messiaanse koninkryk in terme van wêreldlike rangordes verstaan (vers 37), gee Bartimeus op intuïtiewe manier uitdrukking daaraan dat hy die Seun van Dawid as barmhartige geneesheer beskou (vers 47). Die merkwaardige van Bartimeus se roep na Jesus, lê in die twee dinge wat hy in sy roep kommunikeer, naamlik: Hy spreek Jesus in die openbaar as Messias aan en; sy roep is ’n appél (met Messiaanse ondertone) op God se barmhartigheid.

Die dissipels soek sitplek langs Jesus. Hulle soek roem en mag. Die blinde bedelaar sit ook, maar langs die pad na Jerusalem, die stad waar Jesus later verwerp sal word. Die hulpelose bedelaar pleit met geloof wat lei tot navolging van Jesus op die lydensweg. Ons roeping as volgelinge van Jesus in die wêreld van werk, is om mense te begelei om met Jesus te identifiseer en Hom op sy weg te volg.