GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 4 NOVEMBER 2024
RCL JAAR B – VIER EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 146 (lees 2020-vertaling)
Here, ’n lewe van lofprysing tot U eer –
het geen aanduibare begin of einde nie.
Soos die spontane opwelling van halleluja!
uit die psalmis se binneste sy loflied omvou,
so is my lewe deurweek van lof voor U aangesig.
Dat ’n loflied uit ’n mens se binneste opborrel, Here –
is nie ’n mens se aangebore (natuurlike) respons nie.
En tog is lofprysing uitdrukking van ’n mens se geluk:
groei dit uit die God van Jakob se sorgsame hulp,
bou dit op hoop wat in die Here, ons God, vestig.
Maar, Here, al is lof nie menslik ingebore gedrag nie –
is die daad van ’n lofdeurdrenkte lewenshouding,
’n keuse, ’n wilsbesluit, wat nuwe lewe kenmerk.
Daarom hoor ons die psalmis se selfopwekking:
loof die Here! En sy keuse: Ek wil!
Ja, Here, ek wil U loof solank ek leef.
Ek wil u lof besing solank ek bestaan.
Dankie, Here, vir U gawe van dié wilsbesluit.
Ek erken dit is vreemd aan my lewenshouding.
Maar U het my iets gewys en my oë dit laat sien:
U het hemel, aarde, see en alles daarin gemaak.
U wys u troue liefde elke dag, tot in ewigheid.
Here, dit wat U elke dag sorgsaam onderhou,
maak my ’n gelukkige mens wat U wil loof:
U sien om na verdruktes;
U gee brood aan hongeres;
U versorg weduwees en wese.
Omdat U my laat sien wie U is, Here –
weet ek om te onderskei:
nie op mense vertrou nie,
maar op U alleen,
wat ewig regeer.
Halleluja!
Amen