In November 2019 het ons meer vertel van George Kuyler van die Plaaslike Aksiekomitee (PAK) in George se plaasbediening wat toe al met hul derde dissipelskapprogram besig was. Ons het weer met George opgevolg en dis wat hy te sê het oor die voortgaande Bybelstudieproses en watter uitdagings dit behels:
“Soos jy weet, is ek heeltemal oortuig dat die dissipelskapsprogram die antwoord op lewenstylveranderinge is. Ons was tot voor die grendeltyd met twee dissipelskapsprogramme besig. Tans is ons besig met die vierde rondte op die plaas en gebruik die program van Deon Loots.
“Ons het ook verlede jaar begin met ‘n Bybelstudieprogram waarin ek hoop om deur sekere Bybelboeke te werk. Die mense wat ons bedien, is laaggeskoold; sommige bykans ongeletterd. Taal is boonop ook ‘n groot probleem en ons moet van ‘n tolk gebruik maak. Ons het Afrikaans-, Xhosa- en Chihewa (van Malawi) -sprekendes in ons groep, wat die kommunikasie baie bemoeilik, maar dit baie inetressant maak.
“Ons is besig om stelselmatig deur die Bybel te werk omdat, as gevolg van kultuurverskille, dit nogal moeilik is om te verstaan hoe God se plan inmekaarsteek.
“Ek voel soms dat alle opleiding te gevorderd is, en dat ‘n mens amper ‘n Kinderbybelstorie-vertelproses nodig het om net eers die basiese grondslag te help lê.
“Ons het die boek, Genesis, reeds voltooi en is nou besig met Eksodus. Ons doen een hoofstuk per week. Diegene wat kan lees, moet dit dan by die huis gaan doen. Wanneer ons dan na ‘n week weer bymekaarkom, hersien ons.
“My ervaring is dat die meeste nie gelees het nie of sukkel om te lees. Die wat wel gelees het, kry dan die kans om die hoofstuk in storieformaat te vertel; so sit elkeen sy stukkie by en raak ons aan die gesels totdat ek die gevoel kry ons snap die betekenis van die storie.
“Nadat ons seker gemaak het dat ons die storie onder die knie het, fokus ons op die feit dat God deur sy Woord met ons praat en is die gesprek oop om te deel oor wat God vir ons persoonlik sê.
“Nadat ons dan weet wat God vir ons sê, gaan ons terug huis toe en gaan lees die volgende hoofstuk in die volgende week en dan is dit ook ‘oefen-tyd’ – jy moet oefen om dit wat jy by Vader gehoor het, prakties in te oefen.
“Ek moet vir jou sê, dis ‘n verrykende proses en ons geniet dit. Ekself het weer so baie uit Genesis geleer en is oortuig daarvan dat dit verpligte Bybelstudie moet wees, So is die boek, Eksodus, ook nog in ‘n studie-proses.
“Dis baie interessant om die geweldige verskil te ervaar van wat ons glo in die Bybel staan (soos oorvertel deur ander), en wat werklik, volgens navorsing, oorspronklik deur die Bybelboekskrywers bedoel is. Hier is nogal ‘n groot gaping en onder andere verskillende interpretasies as gevolg van die kultuurverskille in ons groep, soos byvoorbeeld die verskillende waardes wat ons heg aan die betekenis van ons voorvaders.
“Ek gebruik dan die riglyne in die boek The hour that changes the world (Dick Eastman) om die 12 elemente van gebed so stuk-stuk te probeer weergee, byvoorbeeld hoe leer die gedeelte wat ons gedoen het ons om God te aanbid, of om net stil te wees en te dink, of hoe bid ek oor sondevergifnis. Saam met die Bybelstudie fokus ons dus ook op die noodsaaklikheid van hoe ons moet bid.”
“Ek nie seker wat ons volgende boek gaan wees nie; dalk die evangelie van Johannes.”
Kontak
George Kuyler
snr@kuyler.co.za






