Die belangrikste gebod van almal

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Vier en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar B: Vrydag 8 November 2024

MARKUS 12:28-34

In navolging van Markus se verhaal oor Jesus se reis na Jerusalem, waar sy aangekondigde dood (8:31; 9:31; 10:33) sou afspeel, bring Markus 12:28-34 ons tot in Jerusalem (11:15, 27). Die gebeure in Jerusalem wat Jesus se dood aan die kruis voorafgaan, vorm die inhoud van Markus 11:1-12:44 (ook ons Skrifdeel). Markus sit sy vertel patroon hier voort, deur nog ’n gespreksgenoot uit die skare in interaksie met Jesus te bring. Terwyl Jesus in vers 18-27 met die Saduseërs oor die opstanding uit die dood redeneer, staan ’n naamlose skrifkenner nader met ’n vraag aan Jesus oor nog ’n belangrike tema. Hy wil weet watter gebod die belangrikste van almal is (vers 28).

Na die voorafgaande verhaal eenheid (8:27-10:45) waar Jesus sy dissipels leer oor die weg waarop Hy is en wat dit beteken om Hom as dissipels te volg, is die tema oor die belangrikste gebod wesenlik vir Markus se vertelling oor Jesus se lewe en sy aankondiging van die op-hande koninkryk (1:15). Aan die einde van ons Skrifdeel (vers 34) beoordeel Jesus die skrifkenner se interpretasie van sy uitleg as verstandig. In die lig van die dissipels se onvermoë om Jesus se leer te verstaan, asook die vyandigheid van die Joodse godsdienstige leiers teenoor Jesus, is die gemoedelike interaksie tussen Jesus en dié skrifkenner opvallend en selfs verrassend. Trouens, dit is die enigste storie in die Evangelie waar ’n skrifgeleerde Jesus met ’n positiewe houding nader. Dit het ’n positiewe uitkoms vir die skrifkenner. Dit kontrasteer ook met die dissipels se gebrekkige insig en beklemtoon Jesus se verwelkomende benadering tot almal om Hom.

Die ontwikkeling van Jesus se gesprek met die skrifgeleerde daag lesers uit met ’n kinkel wat ons dwing om weer te lees en dieper te luister wat Jesus sê. Op die skrifgeleerde se vraag oor watter gebod die belangrikste is, antwoord Jesus oënskynlik méér as wat gevra is. Hy verwys na Deuteronomium 6:4 in ’n aangepaste weergawe van die Hebreeuse Shema-gebed (wat ‘luister’ beteken, soos in: “Luister, Israel…”). Toegewyde Jode bid dié gebed daagliks en Jesus vra niks minder as juis dit nie. Die fokus van die eerste gebod (vers 29) is intensionele liefde vir die Here jou God (vers 30). Jesus noem egter ook ’n tweede fokus, naamlik liefde vir jou naaste (aanhaling van Levitikus 19:18 uit die Septuagint), met verklarende kommentaar vir sy uitgebreide antwoord: “Geen ander gebod is belangriker as dié nie” (vers 31). Dit is die vervulling van die wet en die profete. Daarvoor het Jesus na Jerusalem gekom.

Die skrifgeleerde is self ’n noemenswaardige karakter, al word sy naam nie genoem nie. Hy herken en erken Jesus vir ’n diepsinnige gesprek. Sy vraag is dikwels ook aan prominente rabbis gevra om te bepaal of hulle die kern van die wet kon verwoord. In sy refleksie op Jesus se antwoord, kommunikeer hy ’n betekenismoontlikheid wat Jesus nie hardop uitgepsreek het nie, maar wel onderliggend teenwoordig was. Indien dié gebooie die belangrikste van almal is en juis waaroor aanbidding, liefde en diens aan God ten diepste gaan, dan is alles waarvoor die Tempel staan (daaglikse, weeklikse en jaarlikse offers en offergawes) eintlik oorbodig. Prakties beteken dit dat wanneer krisisse ons tref, liefde vir God en ons naaste steeds saak maak, maar nie offerandes nie. Die skrifgeleerde het die onderliggende betekenis van Jesus se uitspraak begryp. Sy insig het Jesus se waardering opgewek en Jesus laat verklaar: “Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.” (vers 34)

Jesus was oortuig dat God deur sy koninkryksmissie vir Israel sou toerus om Hom op ’n nuwe wyse te aanbid en lief te hê, asook om mekaar lief te hê op ’n wyse wat die vrug is van hernude harte en lewens. Jesus se verstaan van die gebod van die liefde, rig aan ons as hedendaagse Christene die uitdaging om nie vas te haak by die vorm van ons daaglikse godsdienstigheid nie. Ons moet die liefde doen in navolging van Jesus se liefdesdaad wat hy in Jerusalem volbring het, ook waar ons werk.