GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 11 NOVEMBER 2024
RCL JAAR B – VYF EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 127 (lees 2020-vertaling)
Here, Salomo, die wyse psalmis, skryf ’n pelgrimslied.
Op pad na die plek waar hy U gereeld ontmoet,
peins hy oor geloof in U en sy lewe met U.
Die psalmis se lied op sy pad na die Tempel, Here –
bevat herinneringe aan waar U teenwoordig was,
op sy pad deur die lewe, gister en verder terug.
Die pelgrimslied, geloofslied, herinneringslied –
roep tonele op oor die omvang van ervarings
wat ook my/ons lewensgang omsluit, Here.
Geen bestaansfaset ontgaan die pelgrim nie.
Sy begeerte om by U te wees, Here –
herinner u is/was oral teenwoordig.
Oral is U agter die skerms besig, Here.
Privaat, huislik, openbaar, professioneel –
U is oomblik vir oomblik deel daarvan.
Met die oprigting van ’n tuiste vir my gesin
en daaglikse sweet om te voorsien vir geliefdes,
verseker U, Here, elke opdrag en taak tref die kol.
Wanneer die welsyn van die samelewing,
ons beskerming en diensbaarheid vereis,
verseker u aan ons veiligheid en rus, Here.
Selfs die daaglikse inspanning van werk vir kos,
kan nie u ewige voorsiening ontken nie, Here.
U vervul ons behoeftes al slaap ons nog.
Dan is daar ook die seën van kinders, Here.
U wek lewe in die baarmoeder van vroue,
sodat kinders die familienaam voortdra.
Geluksalig is ouers wie se nageslag
hulle beskerm en versorg in gevaar,
die reg in gemeenskappe handhaaf.
Here, hoor my/ons pelgrimslied as gelukkiges.
Ons weet nou al ons pogings is tevergeefs,
as U nie die seën daarop gee nie.
Amen