Sprei jou vlerke en vlieg Hoog

FOTO: Shalton in sy nuwe skooldrag

 

“Ons hier by Biblia doen ook berading, so daarom was dit vir ons ’n voorreg om vir Mariana, die eerste persoon wat deur ’n besigheid in Houtbaai Hawe na ons verwys is, te kon help,” vertel Sandra Leeuwner, pastorale werker by Biblia Houtbaai.

“Na vele gesprekke hoor ek die desperate hart van ’n ma wat net graag die beste vir haar kind wil hê. Op daardie stadium sou dit wees dat haar seun, Shalton, weer toegelaat moes word om skool toe te kan gaan. Almal maak foute. Wie kan dan die eerste klip gooi? Wie is bereid om ander wat foute maak ’n tweede kans te gun? Gee God dan nie self vele kanse as ons maar net in opregtheid na Hom terugkeer nie?

“Wat maak ’n 14-jarige kind dan heeldag alleen by die huis wanneer ma en pa albei werk om ’n inkomste te verdien en daar nie vir hom toegang tot die enigste beskikbare skool in die onmiddellike omgewing is nie?

Sandra vertel verder: “Ek dink aan baie moontlike oplossings, maar sonder sukses – teen dié tyd ken ek al die omstandighede van soortgelyke situasies, en dis ook Mariana se bekommernis!

“Sonder om die wiel heeltemal te herontwerp het ons begin by die begin: ons het gaan raad vra by die Departement van Sosiale Ontwikkeling, gesprekke gevoer met die skoolhoof van Shalton se vorige skool en so het ons goeie leiding gekry oor wat die beste opsie vir hom sou wees.

“Danksy oproepe, e-posse en ’n geleentheid om die Opedag van ’n vaardigheidskool te kon bywoon, het Mariana die aansoekvorm voltooi en kon Shalton sy skoolloopbaan op 17 Januarie 2018 hervat.”

Mariana skryf self: “Ons is dankbaar vir die kans wat ons kon kry om vir Shalton weer terug by die skool te kon kry, en om te sien hoe vrywillig hy is om ’n sukses te maak van sy skoolloopbaan, but mostly vir die Vader omdat hy my die krag gegee het om alles te deurstaan.”

Here, lei hom asseblief om daagliks besluite te neem tot U eer!

 

Kontak Sandra Leeuwner
sandra@worldatwork.net