Een van Arbeidsbediening se opwindendste hulpmiddels wat onlangs ontwikkel en alreeds met groot sukses gebruik is, is die IMSA (Industrail Ministry SA) Think Tank.
Biblia Houtbaai, – Kalkbaai, – Kaapstad en – Durban, asook IMPAK Kaapse Metropool het dit al almal baie suksesvol gebruik en praat met groot lof daarvan. Arbeidsbediening in Kleinmond en Citrusdal is ook tans besig om daarvan gebruik te maak.
Jaco Leeuwner wat die ontwerp- en ontwikkelsproses oor ‘n tydperk van twee maande gekonsulteer het, verduidelik hoe dit ontstaan het: “Tydens ‘n IMSA Nasionaal direksievergadering in November 2019, is daar ‘n groot behoefte geïdentifiseer om iets te ontwikkel wat IMSA se bedieninge en projekte sal kan ontleed sodat daar by veranderende tye aangepas kan word wanneer en waar nodig.”
Maar hoe werk hierdie Think Tank? Jaco verduidelik: “Dit werk in die vorm van ‘n verbruikersvriendelike interaktiewe selfoon-, tablet- en rekenaar toep (App) en bestaan uit vier een uur-sessies. Elke sessie het twee gedeeltes: die eerste halfuur bestaan uit ‘n internetsessie op die opleidingsplatform wat kort video’s, gesprekvoering, ‘n bietjie ‘huiswerk’ en twee praktiese hulpbronne insluit. Die laaste halfuur bied self- of groepsrefleksietyd aan van wat op die internet-opleidingsplatform aangebied is.
Hierdie sessies help jou dan om (van eenvoudige tot meer komplekse behoeftes) met meetbare uitkomste in die samelewing aan te spreek. Voornemende fasiliteerders word toegerus deur ‘n een uur-zoomsessie nadat hulle eers self die Think Tank-proses voltooi het en kan dan dit verder self aanlyn uitrol binne hul eie netwerke.”
En almal kan hierby baat. Jaco verduidelik: “Oud en jonk (so vanaf 15 jaar oud), individue, kleingroepe, families, vriendekringe, kerke, organisasies en besighede kan by hierdie app baatvind. Alles vind binne ‘n verbruikers- en datavriendelike omgewing aanlyn plaas; van registrasie tot die uitrol van die sessies, maak nie saak waar die persoon of groep hulle bevind nie.”
Kontak gerus vir Jaco Leeuwner by thinktank@imsa.partners of whatsapp hom by 082 047 7487 as jy ook van hierdie nuttige app gebruik wil maak.