Tuinroete spog nou met First Light-fasiliteerders

Gedurende Mei 2021 het twee persone van Arbeidsbediening Tuinroete, naamlik Floors Meyer en Joel Plaatjies,  gekwalifiseer as fasiliteerders van die First Light on BrightStar-program (https://www.brightstarlifestyle.co.za/first-light.html).  Die opleiding is deur Inge van der Merwe  via Zoom aangebied.

Die First Light-program fokus op die ses kernfasette wat deur die opvolgprogram daarvan, die BrightStar Lifestyle-program, meer volledig gedek word.

Die ses modules handel kortliks oor die volgende onderwerpe:

  • Skitterende gedagtes: hierdie module help deelnemers om te verstaan watter invloed mens se denkpatrone op hulle gedrag het en begelei hulle om positiewe besluite te neem.
  • Skitterende menswees: hierdie module fokus op die versterking van ‘n positiewe selfbeeld.
  • Skitterende emosies: die module leer die deelnemers die basiese tegnieke van emosionele selfbestuur.
  • Skitterende kommunikasie: hierdie module leer die vaardighede van effektiewe kommunikasie.
  • Skitterende dade: die module leer die belangrikheid van ‘n betekenisvolle lewe deur berokkenheid by die nood van die wêreld.
  • Skitterende toekoms: die tema van die laaste sessie is “moeilike paaie lei dikwels na ‘n goeie bestemming”.  Dit sluit aan by ons teologie dat ‘n mens nie ‘n slagoffer van jou omstandighede hoef te wees nie.

Arbeidsbediening Tuinroete oordeel dat dit ‘n goeie program is om vir skoolverlaters  aan te bied, ten einde hulle die basiese vaardighede te leer vir die lewe wat in die markplek op hulle wag.

Floors en Joel is besig met die beplanning om ‘n eerste werkwinkel vir skoolverlaters aan te bied.  Die durende effek wat die pandemie op skole se programme het, ry hulle tans egter sleg in die wiele.

Kontak Floors Meyer by floors@mweb.co.za of die Kaapstreeksbestuurder, Carin Brink,  by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting oor die opleiding.