NG Kerk Hartenbos bied erediensgeleenthede aan Arbeidsbediening

Die NG Kerk Hartenbos

“Geloofgetrou in elke werksplek.”  Dit is die leuse van Arbeidsbediening en sê daarmee presies wat die eintlike doel van Arbeidsbediening is – om Christene te help om in hul plek van werk getrou te bly aan hul geloof in Christus.

Maar dis nie al nie. Arbeidsbediening se drie hooffokusse is eerstens Christelike opheffing, tweedens toerusting en opleiding, en laastens evangelisasie en Woordverkondiging.

Om hierdie besondere diens wat tot beskikking van werksplekke is egter baie wyer reklame te help gee, is dit baie noodsaaklik dat gemeentes Arbeidsbediening sal uitnooi om meer daarvan in hul gemeentes te kom vertel.

Een so ‘n gemeente is die NG Kerk Hartenbos. Op Sondag 12 Februarie het dié gemeente naby Mosselbaai albei hul dienste volledig aan die werk van Arbeidsbediening gewy en het die voorsitter van Arbeidbsbediening Mosselbaai, Blackie Swart, die program gelei.

Hy is bygestaan deur hulpwerker, Yolandé Kotze, wat die kinders met ‘n dansliedjie vermaak het en Annette Strydom wat saam met Yolandé ‘n musiekprogram aangebied het. (Hulle het ook onlangs ‘n CD vir Arbeidsbediening gemaak.)

Hulpwerkers Warrick Nelson, JC Botha, Nico Olivier en Hensie Engelbrecht (wat ook ‘n bestuurslid van Arbeidsbediening Mosselbaai is) het waardevolle en inspirerende terugvoer gegee oor die firmas waar hulle gereeld bedien. Hulle het kosbare getuienisse gelewer oor wat hul bediening vir die mense daar geestelik beteken.

Pierre Lamprecht, voltydse geestelike werker van Arbeidsbediening Mosselbaai, het terugvoer gegee oor hulle werksaamhede en Chris Smit, wat al dertig jaar lid is van Arbeidsbediening Mosselbaai, het die boodskap gebring. Buiten sy betrokkenheid by Arbeidsbediening, behartig hy ook sy eie gemeente in Wildernis.

“Beide dienste was volgepak,” vertel Blackie, “en die terugvoer was baie positief en insiggewend. Die NG Kerk Hartenbos het al ‘n paar keer in die verlede beide erediensgeleenthede tot beskikking van Arbeidsbediening gestel. Ons glo dat die uitkoms gesëend sal wees en bly hoop vir ‘n geseënde toekoms.”

Kyk gerus na die volledige diens HIER.

Kontak Blackie Swart by gerhard@thegreenestoffice.com vir meer inligting.