Vriende van Arbeidsbediening-funksie, Mosselbaai

Vriende is daardie mense wat jou wa deur die drif help trek in moeilike tye, of wat jou aanmoedig langs die kantlyn as jy met ‘n marathon besig is en jou kragte maar min is. Hulle is ook die mense wat saam met jou bly is oor jou oorwinnings en suksesverhale.

Arbeidsbediening Mosselbaai is een van ons baie gelukkige takke wat al jarelank bankvas deur hul “Vriende van Arbeidsbediening”-groep ondersteun word.

Op Donderdag 16 Februarie het Arbeidsbediening Mosselbaai hul jaarlikse funksie ten bate van hierdie groep vriende gehou. Dit word jaarliks aangebied om aan hierdie groep predikante, pastore, sakemense en vriende van Arbeidsbediening hul dank te betuig vir hul ondersteuning, positiewe gesindheid en aanmoediging waarsonder hierdie kosbare Arbeidsbedieningswerk beswaarlik gedoen sou kon word.

Die funksie is deur tussen sewentig en tagtig mense bygewoon – iets wat vir Arbeidsbediening Mosselbaai elke jaar ‘n riem onder die hart is. Hierdie besondere verhouding het ook nie oornag ontstaan nie, maar is oor baie jare van wedersydse moeite met mekaar opgebou.

Die geleentheid is gelei deur die Arbeidsbedieningsvoorsitter, Blackie Swart. Bestuurslid, Hensie Engelbrecht, het almal welkom geheet, een van die *hulpwerkers, Johan Pretorius, het die opening waargeneem en die samesang is gelei deur Annette Strydom en Yolandé Kotze.

Die gasspreker van die aand was Hein Marx, ….., wat gepraat het oor Christenskap en leierskap.

Daarna het Johan Fourie, leier van die Geestelike Werkerskomitee van Arbeidsbediening, terugvoer gegee. Hierdie komitee bestaan uit kundige mense wat elke tweede maand vergader met die doel om strategieë te beplan sodat Arbeidsbediening nog beter kan funksioneer.

Een van die hulpwerkers, Elsabé Louw, het ‘n getuienis gelewer oor haar ervaring by Arbeidsbediening; oor hoe sy ‘n afgedwaalde persoon na die Here gelei het. Aangesien dit een van die hoofredes is waarom Arbeidsbediening bestaan, het dit die mense diep aangegryp.

Twee ander hulpwerkers, Ben en Izolde Becker, het daarna twee mooi sang-items gelewer.

Nog ‘n hulpwerker, Johan Boshoff, het terugvoer gegee oor sy gevangenisbediening. Hy besoek ook plase in die hele Mosselbaai munisipale area en lewer Christelike  boodskappe met groot sukses.

Arbeidsbediening Mosselbaai se voltydse geestelike werker, Pierre Lamprecht, het daarna terugvoer gegee oor Arbeidsbediening se werksaamhede in die geheel; iets wat altyd ‘n groot hoogtepunt tydens hierdie funksies is.

Aan die einde van die verrigtinge het Meisie Minnies, betrokke by die Afdeling Dissipelskap van Arbeidsbediening, vir Stephna Maree, sekretaresse van Arbeidsbediening, bedank vir die organisering, waarna Simoné Koen aan haar ‘n pragtige ruiker blomme oorhandig het.

Die verrigtinge is afgesluit met ‘n gebed deur een van die hulpwerkeers, Pastoor Benson, en daarna is die Oorwinningslied onder leiding van Annette en Yolandé uit volle bors gesing.

Alle eer aan ons Hemelse Vader wat dit ‘n mooi geleentheid gemaak het.

Kontak Blackie Swart by gerhard@thegreenestoffice.com vir meer inligting.

* ‘n Hulpwerker is iemand wat boodskappe in die werksplek bring.