Stewige bande met Arbeidsbediening Helderberg – tot groot seën vir almal

Die voorsitter van Arbeidsbediening Helderberg, Buks du Toit (links) en geestelike werker, At Kampman (regs) by hul kantoor in die Strand se ingang.

 

“Dis wat in die praktyk gebeur as ‘n mens met ‘n oop hart, ‘n oop gemoed en opregte toewyding getuig oor wat die Here vir jou gedoen het en ook vir ander mense kan doen,” sê At Kampman, geestelike werker van Arbeidsbediening Helderberg in die Strand. “Op hierdie manier kry die Here die eer wat Hom toekom.” At praat hier van die effek wat hul bediening dikwels op van die talle besighede wat deur hul 35 vrywilligers bedien word, het.

Hy deel met ons die volgende storie: “Danksy een van ons Helderberg-tak se geestelike werkers, is daar oor baie jare ‘n goeie vertrouensverhouding met een van die besighede, Palm Tyre Service, opgebou.

“Dit het mettertyd so verstewig, dat Palm Tyre Service later by die ingang van hul ontvangslokaal ‘n kennisgewingbord laat aanbring het oor die dienste wat Arbeidsbediening aan mense en besighede kan bied. Met hierdie gebaar het hulle hul verbintenis met Arbeidsbediening en die beginsels waarvoor Arbeidsbediening staan, bevestig; iets wat baie vir ons tak in Helderberg beteken.

“En dit is nie al nie – aan elke kliënt wat diens van Palm Tyre Service ontvang, word ‘n kaartjie met Joh 14:6 as kompliment gegee: I am the way, the truth and the Life; no one comes unto the Father, but by me.” (Sien foto hieronder.)

Mag hierdie getuienis vir jou ook inspireer om te besef hoeveel mense in geestelike nood is en kan baat vind by jou opregte toewyding as navolger van Christus, veral in jou plek van werk.

Kontak At Kampman by arbeid.helderberg@gmail.com vir meer inligting.