Nommer 1
Psalm 139 Vers 1-6
Here, U laat my in verwondering.
Ek aanbid U in onbegrip,
maar in afhanklikheid
en met ’n dankbare hart.
Wat my verwondering aanspoor,
is dat U in my belangstel,
soveel so, dat U tyd spandeer,
om my van binne en buite te ondersoek.
U weet van my.
U verstaan my.
My lewensgang is aan U bekend.
Selfs die woorde wat ek nog nie uiter nie,
het reeds u ore bereik,
en wanneer my tong die klanke vorm
om my begeertes aan U te noem,
is U alreeds volledig bewus daarvan.
Here, al begryp ek niks daarvan
dat U my persoonlik wil verken nie,
rus ek in die versekering
dat U my toevou aan alle kante,
en dat U my in u handpalms bly vertroetel.
Skeppergod, oor Wie ek my verwonder,
ek aanbid U omdat U my lewenspad ken.
Dankie dat U my toelaat om U só te ervaar.
Amen
Nommer 2
Vers 7-12
Here, U is oraloor,
ook hier waar ek nou in gebed tot U nader.
Dat U oral is,
maak my gelyktydig skrikkerig vir U,
én vul my met troosvolle sekerheid in U.
Ek bely dat ek soms onder u oë wil uitglip –
iewers wil vertoef of iets te doen
wat ek nie wil hê U moet sien of weet nie.
Dit maak my skrikkerig.
Want ek kan U nie ontglip nie.
Maar dan is daar tye, en dit is meer dikwels,
dat ek aan die donker van die lewe wil ontglip,
en dan is u teenwoordigheid my troos en sekerheid.
Dankie Here, dat u hand my lei
en u regterhand my vashou,
ook wanneer ek van U wil wegglip.
U weet mos Here,
dat ek maar net wil gaan en wees,
daar waar U teenwoordig is.
Wees by my.
Amen
Nommer 3
Vers 14 – 18
Nommer 4
Vers 23-24
Liewe Here,
ek het ontdek dat U in my belangstel –
dat U my ondersoek en volledig ken.
Die wete dat U my ondersoek,
het my met tye ontstem,
omdat ek nie wil hê dat U so alles van my moet weet nie.
Die pad deur die lewe met sy uitdagings –
het my egter gaandeweg tot die insig gebring,
dat U die pad met my stap,
en die donkerte vir my lig laat word,
juis omdat U alles van my weet.
Nou wil ek U dank daarvoor –
dat U my ondersoek en ken.
Nou laat dit my veilig voel;
dat U alles van my weet.
Here, nou vra ek U asseblief –
ondersoek my elke oomblik,
sodat die begeertes van my hart
en die kronkelpaaie van my gedagtes
voor my oopgaan,
en ek dit aan U kan gee.
Here, lei my op die ewige pad.
Amen